Nuus 15:00
BULLETIN 6 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika maak beswaar oor die misbruik van nasionale simbole in Marokko tydens Zuma se besoek
# Die verkeer-strafpuntstelsel sal in Desember in werking tree
# En rugby: Oorsee-gebaseerde spelers kan nou vir Australië speel na die onttreking van die Giteau-reël
# Die Department van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hy het sterk beswaar aangeteken teen die omstandighede rondom die onlangse besoek van die oud-president en leier van die MK-party, Jacob Zuma, aan Marokko. ‘n Woordvoerder van die ministerie, Chrispin Phiri, sê dit volg nadat Zuma verlede maand in Rabat vergader het met die minister van Buitelandse Sake, Afrika-samewerking en Marokkaanse Uitgewekenes, Nasser Bourita. Hy sê die departement teken ten sterkste beswaar aan oor die gebruik van Suid-Afrikaanse nasionale simbole:
# Die Padverkeersoortredingsagentskap sal vanaf 1 Desember begin met die inwerkingstelling van die langverwagte strafpuntstelsel, met die aanvanklike inwerkingtreding by 69 munisipaliteite. Die woordvoerder, Monde Mkalipi, het aan Newzroom Afrika gesê ‘n verdere 144 munisipaliteite sal op 1 April volgende jaar volg. Die stelsel teiken ernstige padoortredings wat met hoë padsterftes verband hou. Mkalipi beklemtoon herhaalde oortreders kan hul lisensies verloor maar ‘n boetekorting van 50-persent en ‘n geskilbeslegtings-meganisme sal beskikbaar wees:
# Die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing vra ‘n gespesialiseerde speureenheid om onwettige mynbou aan te pak nadat meer as 500 onwettige mynwerkers in hegtenis geneem is by die Sheba-goudmyn in Barberton, Mpumalanga. Die uitvoerende hoof, Mariette Liefferink, sê om slegs ‘n beleid te hê, is nie genoeg nie en Suid-Afrika benodig beter afdwinging en samewerking vanaf die polisie en die Valke. Sy waarsku swak regulering en ‘n gebrek aan sluitingsertifikate veroorsaak dat myne kwesbaar is vir infiltrasie deur onwettige mynwerkers.
# Die Stad Kaapstad, in samewerking met die Kaapse Dierewelstandforum, gaan ‘n massa-sterilisasie van stapel stuur. Die projek wat die afgelope 12 jaar deur die metro befonds word, vind plaas in gebiede soos Ravensmead, Elsiesrivier en Bellville-Suid. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê sedert 2013 is 17-duisend-876 diere gesteriliseer teen ʼn koste van byna agt-miljoen-rand:
# Rugby: Oorsee-gebaseerde Australiese spelers sal in die toekoms vir die Wallabies kan speel nadat Rugby Australië die beleid onttrek het wat plaaslike spelers sterk bevoordeel het. Dit dui die einde aan van die sogenaamde Giteau-reël van 2015 wat na die voormalige losskakel, Matt Giteau, vernoem is. Dit het bepaal dat oorsese spelers slegs na 60 wedstryde vir Australië en sewe Super Rugby-seisoene vir die Wallabies kan speel. Dit is blykbaar herroep omdat die toetssterre Will Skelton, Tom Hooper en Taniela Tupou by Europese klubs gaan speel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-250-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-366-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….