Nuus 15:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 13 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verduidelik, wat hy noem, verkeerde beriggewing oor die AgriSEB-vereistes vir landbou-uitvoere
# Die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement verseker daar is geen rede tot kommer na die witseerkeel-uitbreking nie
# En Krieket: Slegs ses van Engeland se Wêreldbeker-groeplede word vir die Windies-toer behou
# Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het onlangs twee kennisgewings in die Staatskoerant gepubliseer wat die prosedure vir uitvoere van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie en Mosambiek na onderskeidelik die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk uiteensit. Dit word gedoen om voordeel te trek uit voorkeurtarief-kwotas vir sekere landbou- en landbouverwerkte produkte. Woordvoerder Reggie Ngcobo sê berigte oor die naweek was ʼn wanvoorstelling van die regering se boodskap oor die prosedure en jaarlikse aansoek om uitvoerpermitte na markte in die EU en die VK:
Speel klankgreep: ENG ReggieOnIncorrect
# Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het die versekerering gegee dit is nie nodig om paniekerig te raak ná die witseerkeel-uitbreking by die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad nie. ‘n Negentien-jarige gevangene is verlede week dood en agt ander is in afsondering. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, se woordvoerder, Luke Albert, het aan Newzroom Afrika gesê die res van die provinsie verkeer nie tans in gevaar nie en daar is ‘n inentingsveldtog om die verspreiding van die siekte te voorkom:
Speel klankgreep: ENG-AlbertOnDiptheria
# Die voormalige Britse premier, David Cameron, is in ‘n onverwagte herskommeling as minister van Buitelandse Sake aangestel in Rishi Sunak se kabinet. Cameron vervang vir James Cleverly, wat die nuwe minister van Binnelandse Sake is in die plek van die omstrede Suella Braverman. Sy is afgedank nadat sy die polisie onlangs in ‘n artikel daarvan beskuldig het hulle verkies linkse groepe bo regse en nasionale aktiviste. Cameron was premier van 2010 tot 2016, toe hy bedank het weens die uitslag van die Brexit-referendum nadat Britte ten gunste daarvan gestem het om die Europese Unie te verlaat.
#Krieket: Slegs ses spelers van Engeland se Wêreldbeker-groep sal die land in volgende maand se eendagreeks teen die Windies op die Karibiese Eilande verteenwoordig. Jos Buttler behou die kapteinskap al kon die verdedigende kampioen nie die halfeindronde bereik nie. Joe Root, Jonny Bairstow en Mark Wood kry ʼn blaaskans voor die begin van die toetsreeks teen Indië in Januarie, terwyl die toetskaptein, Ben Stokes, ʼn operasie ondergaan vir ʼn knie wat hom al lank reeds pla. Die eendagreeks van drie wedstryde teen die Windies word opgevolg met vyf T20’s.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-911-dollar-40-sent. Die prys van goud is een-duisend-938-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-52-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Universiteit van Pretoria se Diabetesnavorsingsentrum en die Diabetes-alliansie berei voor om Woensdag die Diabetesberaad aan te bied, onder die tema, ‘Diabetesteikens – Die Oordrag van Beleid na Werklikheid’. Die beraad sal fokus op vinniger reaksie op die siekte in Suid-Afrika en die sneller instelling van die Nasionale Strategiese Plan vir die Voorkoming en Beheer van Nie-oordraagbare Siektes. Die universiteit sê, groot kommer heers oor die toename in diabetes onder vroue in Suid-Afrika, veral, swanger vroue.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….