Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder waarsku die onenigheid tussen die EFF en MK kan die opposisie in die Parlement ontwrig
# Solidariteit vra ‘n vroeë sensus nadat 2022 se data as onbruikbaar geag word
# En, motorsport: Jack Doohan is van 2025 af Alpine se nuwe F1-renjaer
# Die politieke ontleder, Ntsikelelo Breakfast, waarsku die onenigheid tussen die leier van die EFF, Julius Malema, en die nasionale organiseerder van die MK-party, Floyd Shivambu, kan opposisiepolitiek in die Parlement onbestendig maak. Shivambu se onlangse oorlopery van die EFF na die MK-party, te midde van interne spanning, kan tot nog oorlopery aanleiding gee. Breakfast het aan die SABC gesê dit kan die dinamiek in die progressiewe koukus bemoeilik:
# Die vakbond Solidariteit doen ‘n beroep vir ‘n vroeë nasionale sensus in 2026 na die erkenning dat groot gedeeltes van 2022 se sensusdata onbruikbaar is. Die data-kwessies, insluitend onakkuraathede in indiensnemings- en demografiese statistiek, het ernstige kommer laat ontstaan oor die bekwaamheid van Statistieke Suid-Afrika en die betroubaarheid van toekomstige beramings. Connie Mulder van Solidariteit vra die verwydering van Statistikus-generaal Risenga Maluleka, want die foutiewe data raak toekomstige beplanning:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, het aangekondig perde-uitvoere na die Europese Unie gaan na 14 jaar hervat. Die aankondiging volg nadat ‘n besending van 32 perde na die EU vertrek het. Dié mylpaal is die gevolg van die omvattende samewerking tussen die departement en ander belanghebbendes. Meyer benadruk die stap is noodsaaklik vir die stimulering van die plaaslike ekonomie en werkskepping. Hy verwag nog uitvoere teen die middel van volgende maand.
# Motorsport: Die Australiër Jack Doohan is van die 2025-seisoen af ‘n voltydse lid van Alpine (al-PIEN) se Formule Een-span saam met die Fransman, Pierre Gasly. Die 21-jarige renjaer, wat die span se reserwe-jaer is, is die vyfmalige motorfiets-wêreldkampioen, Mick Doohan, se seun. Hy vervang Esteban Ocon wat by Haas gaan aansluit. Doohan was derde in verlede jaar se Formule Twee-kampioenskap. Hy sê dis ʼn droom wat waar word en hy sal alles in sy vermoë doen om op en van die baan ʼn sukses te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-859-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-499-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die Ahmed Kathrada-stigting eer die fluitjieblaser Babita Deokaran op die derde herdenking van haar sluipmoord. Die voormalige waarnemende finansiële hoof van die Gautengse Gesondheidsdepartement was ‘n sleutelgetuie in ‘n korrupsie-ondersoek waarby die verkryging van 850-miljoen-rand se persoonlike beskermingstoerusting tydens die Covid-19-pandemie by die Tembisa-hospitaal betrokke was. Sy is buite haar huis in Johannesburg doodgeskiet. Ses mans is aan haar moord skuldig bevind en gevonnis, maar die baasbreine is steeds op vrye voet. Ses van nege amptenare wat sedertdien geskors is, is nog nie aanspreeklik gehou nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….