Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker dien ‘n beëdigde verklaring in oor die regsuitdaging teen John Hlophe se aanwysing op die Regterlike Dienskommissie
# Die UWK sê Suid-Afrikaners moet nie vertrou op party-politieke ooreenstemming nie
# En, krieket: Kaartjieverkope vir Suid-Afrika se nuwe internasionale seisoen open Maandag
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het ‘n beëdigde verklaring by die Hooggeregshof ingedien rondom regsuitdagings teen John Hlophe se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie. Die Parlement het die aanwysing verlede maand gedoen, maar dit word uitgedaag nadat hy as regter afgedank is weens growwe wangedrag. Woordvoerder Moloto Mothapo sê die speaker bly neutraal en wys daarop Hlophe se aanwysing was ‘n politieke stap van die Parlement, en die hof moet nou daaroor beslis:
# ‘n Akademikus verbonde aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Jaap de Visser, sê Suid-Afrikaners behoort nie te vertrou op party-politieke eenstemmigheid of koalisie-vorming vir gesonde tussenregerings-verhoudings nie. Hy sê die regering van nasionale eenheid verskaf wel ‘n geleentheid vir groter politieke bereidheid tot betrokkenheid met ander partye, maar tegniese en burokratiese kwessies moet nog aandag kry:
# Die voorsitter van die Morgan Stanley International-bank, Jonathan Bloomer, sy vrou Judy en ‘n regspraktisyn van Clifford Chance, Chris Morvillo, is onder diegene wat vermis word nadat ‘n Britse seiljag naby Sicilië gesink het. Die Britse IT-magnaat, Mike Lynch en sy 18-jarige dogter Hannah, word ook vermis. Die jag het gister in die vroeë oggendure in onweer gesink. Vyftien mense is gered, ses word vermis en die liggaam van ‘n man, glo die boot se sjef, is opgespoor. Die soektog duur voort, maar toegang tot die boot se kajuite word deur meubels versper.
# Krieket: Kaartjieverkope vir Suid-Afrika se nuwe internasionale seisoen open Maandag. Die manspan speel in November teen Indië in ‘n T20-reeks van vier wedstryde voor Sri Lanka hier aankom vir twee toetse. Pakistan besoek Suid-Afrika vroeg in Desember en speel drie T20’s, ‘n eendagreeks en twee toetse – in Centurion en op Nuweland in Kaapstad. Die Protea-vroue is vanaf November gasvroue vir Engeland vir ‘n multiformaat-toer met drie T20’s, drie eendagwedstryde en ‘n eenmalige toets.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-522-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-522-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-80-sent per vat.
# Ten slotte: Die Londense Dieretuin het sy jaarlikse inweeg begin om die gesondheid van al die diere na te gaan. Personeel sal elke soogdier, voёl, reptiel, vis en ongewerwelde dier sagkens laat saamspeel, van Humboldt-pikkewyne tot kamele en leeuwelpies, deur kos strategies naby die skaal te plaas om hulle gesondheid en welstand te bepaal. Die data word dan by die data op die Dierkundige Inligtingbestuurstelsel gevoeg. Die inligting is beskikbaar vir dieretuine regoor die wêreld en help dieretuinopsigters om inligting oor bedreigde spesies te vergelyk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….