Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Floyd Shivambu kondig sy vertrek uit die EFF aan en sluit aan by die MK-party
# Die Hersieningsraad trek die parool terug vir die veroordeelde kindermoordenaar Marius van der Westhuizen
# En, krieket: Morné Morkel kry ‘n hoëprofiel-pos as boulafrigter van Indië
# Die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, het bekendgemaak hy verlaat die party om by die MK-party van oudpresident Jacob Zuma aan te sluit. Hy het versoek om van alle pligte in die EFF en die Parlement onthef te word en sê hierdie verandering sal hom in staat stel om deur MK meer doeltreffend tot die politieke landskap by te dra. Shivambu het teenoor die media hom opnuut verbind tot revolusionêre politiek en ekonomiese vryheid:
# Die Toesig- en Paroolhersieningsraad van Korrektiewe Dienste het besluit om die parool terug te trek wat aan Marius van der Westhuizen toegestaan is, wat gevonnis is vir die moord op sy drie minderjarige kinders. Hy sou op 31 Julie vrygelaat word nadat hy 13-jaar van ‘n vonnis van 24-jaar uitgedien het. Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, verwelkom die besluit en sê die paroolstelsel moet hersien word om die kwesbaarstes in die samelewing te beskerm. Groenewald het die hersiening aangevra nadat hy in die kabinet aangestel is.
# Die saak teen 95 Libiese burgers is amptelik teruggetrek in die Landdroshof in Witrivier, Mpumalanga. Die Libiërs is verlede maand by ‘n militêre opleidingskamp in hegtenis geneem. Hulle sal aan die Departement van Binnelandse Sake oorhandig word vir deportasie. Die groep is daarvan aangekla dat hulle Suid-Afrika binnegekom het met visums wat deur wanvoorstelling bekom is. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Monica Nyuswa, sê alle aanklagte is laat vaar:
# Druk bou op vir ‘n skietstaking in Gaza met beraadslagings wat vandag in Katar begin. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, en Katar se eerste minister, Sheikh Mohammef bin Abdulrahman Al-Thani, het in ‘n bedekte waarskuwing aan Iran, Hamas en Israel gesê niemand in die streek moet enige optrede oorweeg wat ‘n moontlike ooreenkoms in die wiele sal ry nie. Bemiddelaars van Amerika, Katar en Egipte het Israel en Hamas genooi vir onderhandelings om die oorlog te beëindig. Die konflik het reeds groepe wat Iran steun, uit Libanon, Jemen, Irak en Sirië by die konflik betrek.
# Krieket: Die gewese Protea-snelbouler Morné Morkel se aanstelling as boul-afrigter van Indië word beskryf as die belangrikste posisie in sy afrigtersloopbaan. Hy sluit aan by hoofbreier Gautam Gambhir en sy assistente, die Suid-Afrikaans-gebore gewese Nederlandse veelsydige speler Ryan te Doeschate, en die gewese Indiese speler Abishek Nayar. Morkel het in 2018 as speler uitgetree na 86 toetse, 117 eendag-internasionale wedstryde en 44 T20’s. Sy afrigtersloopbaan het hom onder meer geneem na Nieu-Seeland se nasionale vrouespan, Pakistan se manspan en die Indiese Premiersliga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-492-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-458-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….