Nuus 15:00
BULLETIN 5 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Soviet Lekganyane lei die parlementêre ondersoek na bewerings van infiltrasie in die strafregstelsel
# Die Universiteit Stellenbosch bevestig meningokokkale meningitis as die oorsaak van ‘n student se dood
# En TAX Justice SA verwelkom die Hooggeregshof-uitspraak in die tabakbelasting-ontduikingsaak van 96-miljoen-rand
# Die ANC-lid Soviet Lekganyane is gekies om die parlementêre ad hoc-komitee te lei wat bewerings van korrupsie in die polisie en politieke inmenging sal ondersoek. Die komitee is gestig nadat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, beweer het wetstoepassing word deur misdaadsindikate binnegedring. Die EFF-leier, Julius Malema, is as voorsitter benoem, maar het dit geweier. Lekganyane sê die komitee moet teen die einde van Oktober verslag doen oor sy bevindinge:
# Die Universiteit Stellenbosch het bevestig dat ‘n tweedejaar-teologiestudent, Chris Scheffers, dood is aan meningokokkale meningitis. Sy liggaam is die naweek in sy kamer in die Dagbreek-koshuis ontdek. Beamptes van die universiteit sê kontakopsporing is onderweg om persone te indentifieer wat gedurende die laaste tien dae noue kontak met Scheffers gehad het. Voorkomende medikasie sal ook binne 24-uur versprei word. Die universiteit sê geen verdere gevalle is bevestig nie en hulle sal alle kontakte noukeurig dophou. Alle algemene geleenthede by die koshuis is uitgestel.
# TAX Justice South Africa verwelkom die uitspraak van die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof wat ‘n bewaringsbevel handhaaf teen Amalgamated Tobacco Manufacturing en 19 ander in ‘n belastingontduikingsaak van 96-miljoen-rand. Amalgamated Tobacco betwis ook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se reg om toesigkameras aan te bring in fabrieke. Yusuf Abramjee van Tax Justice sê die hof het pogings geweier om die Inkomstediens te verhoed om beslag te lê op bates. Abramjee sê die uitspraak bewys die bedryf word geteister deur belastingontduikers. Hy beklemtoon die belangrikheid van deursigtigheid om onwettige handel bloot te lê.
# Olimpiese Spele: Die reëlingskomitee vir volgende jaar se Milaan-Cortina Olimpiese en Paralimpiese Winterspele in Italië sê voorbereidings vorder goed en tydig. Die Olimpiese openingseremonie is op 6 Februarie, en die Paralimpiese Spele open op 6 Maart. Die Spele maak gebruik van ‘n magdom bestaande persele om kostes te bespaar. Die komitee se uitvoerende hoof, Andrea Varnier, sê net soos met enige ingewikkelde wêreldgeleentheid is uitdagings deel van die proses, maar hulle beweeg vol vertroue voort:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-829-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
# En laastens: Cosatu sê die SAKP het in sy 104-jarige bestaan getrou gebly aan sy visie vir die bevryding van die werkersklas en die armes, en rassistiese oorheersing weerstaan. Die SAKP het dié week sy 104de bestaansjaar gevier. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die SAKP se grondbeginsels van sosialisme is deur die jare heen deur die party gedra, tesame met die Nasionale Demokratiese Revolusie, en hy het kapitalisme sonder vrees weerstaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….