Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof stel die saak uit teen Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent
# Drie kragstasies toon ‘n verbetering in opwekkingsvermoë
# En, rugby: Die All Blacks beloof om terug te slaan na die skoknederlaag teen Argentinië
# Die saak teen Moroadi Cholota, die gewese persoonlike assistent van die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, is tot môre uitgestel. Cholota staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met ‘n asbeskontrak van 255-miljoen-rand. Sy het vlugtig in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn. Die uitstel gee die staat kans om sy reaksie op haar borgtogaansoek te finaliseer. Cholota, wat onlangs uit Amerika uitgelewer is, is vier maande lank aangehou en sy word beskuldig dat sy korrupte transaksies vir Magashule bemiddel het.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê daar is vordering met die opwekkingsvermoё van die kragstasies by Tutuka, Kendal en Kriel. Volgens Ramokgopa het maatreëls prestasie verbeter, maar waarsku Suid-Afrika is nog nie volkome bevry van die uitdagings met beurtkrag nie. Hy sê volgehoue waaksaamheid en verbeterings is nodig om die kwessies met kragvoorsiening permanent op te los:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa vra respek vir die demokratiese proses in Venezuela en eis dat alle regerings wêreldwyd die wil van die land se mense eerbiedig. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê volgens die Nasionale Verkiesingsraad het president Nicolas Maduro die verkiesing gewen met 51-persent van die landwye steun teenoor die 44-persent van die opposisiekandidaat, Edmundo Gonzalez:
# Rugby: Argentinië kan verwag Nieu-Seeland gaan terugslaan wanneer die twee spanne weer in Auckland kragte meet na die gashere se skoknederlaag van 38-30 in die Rugbykampioenskap. Nieu-Seeland se hulpafrigter, Scott Hansen, sê ondersteuners kan ‘n beter vertoning van hulle span verwag. Die spanne speel weer eerskomende Saterdag op Edenpark in Auckland, waar Nieu-Seeland in 30 jaar nog nie verloor het nie en bykans 50 toetsoorwinnings behaal het. Volgens Hansen is baie lesse geleer gedurende ‘n openhartige besinning oor die nederlaag in Wellington.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-402-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-441-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die ontwykende kunstenaar, Banksy, het bevestig hy het piranhas in die water op die waghuisie van die polisie in Londen geverf, wat gisteroggend die eerste keer opgemerk is. Skares het foto’s geneem, maar versperrings is opgerig om mense te verhinder om nader te gaan. Dit is sy sewende nuwe kunswerk binne ‘n week nadat ‘n bok, apies, olifante, ‘n wolf, pelikane en ‘n kat oornag verskyn het. Banksy hoop blykbaar hierdie opbouende werke sal mense opbeur en onderstreep die mens se skeppingsvermoë eerder as negatiwiteit en vernielsug.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….