Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent word uitgelewer aan Suid-Afrika
# Die Verbruikersombud vra gewysigde wetgewing om e-handel-uitdagings aan te pak
# En, rugby: Dave Ewers van Ulster sluit aan by die Stormers op ‘n korttermyn-kontrak
# Die gewese persoonlike assistent van die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, word vandag uit Amerika uitgelewer om tereg te staan in verband met die asbes-tenderkorrupsiesaak van 255-miljoen-rand. Moroadi Cholota was aanvanklik ‘n sleutelgetuie, maar is aangekla omdat sy geweier het om met die staat saam te werk. Daar word beweer dat Magashule en ander hooggeplaasde amptenare omkoopgeld gekry het in die asbesverwyderingskontrak terwyl net 21-milljoen-rand se werk voltooi is. Cholota word begelei deur die polisie en Interpol en land na verwagting vanmiddag op die OR Tambo Internasionale Lughawe.
# Die kabinet het Eskom geloof met die geskiedkundige mylpaal wat hy bereik het in opwekking van elektrisiteit, ‘n teken van merkbare vordering in die energiesektor. Hierdie perstasie volg op die instelling van die energie-aksieplan, wat die vertoning van kragstasies verbeter het en etlike maande reeds standvastige elektrisiteitsvoorsiening verseker sonder beurtkrag. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, versoek volgehoue energiebesparende praktyke om voortgesette bestendigheid en groei in die sektor te ondersteun:
# Suid-Afrika se verbruikerswetgewing is verouderd en skiet tekort om moderne kwessies oor e-handel aan te pak, veral met internasionale verkopers. Dit is die mening van die uitvoerende hoof van die Verbruikersombud, Queen Vhulahani-Munyai. Sy het die jaarverslag met Newzroom Afrika bespreek en gesê daar is ‘n behoefte aan gewysigde wetgewing en beter verbruikersopvoeding en regstellingsmeganismes. Sy vra samewerking met ampsgenote in streke om raamwerke vir verbruikersbeskerming te verbeter en digitale tegnologie te bevorder:
# Die polisie in Kenia het vandag traanrook afgevuur in die hartjie van die hoofstad, Nairobi, met klein groepies betogers wat saamdrom op wat na verwagting ‘n nuwe dag van aksie sal wees teen die beleërde president, William Ruto. Onlustepolisie patrolleer die strate in die sentrale sakekern, padblokkades is op belangrike hoofweë opgestel en baie winkels gesluit, maar slegs ‘n handjievol betogers het opgedaag. Die Oos-Afrikaland is gewoonlik baie bestendig, maar word nou al weke lank geskud deur versetoptrede teen Ruto se regering, meesal aangevoer deur jong Keniane.
# Rugby: Ulster se ervare losvoorspeler, Dave Ewers, het ‘n korttermyn-kontrak onderteken om voor die 2024/25-seisoen by die Stormers aan te sluit. Die speler, wat ewe goed as toekant-flank of agsteman kan diens doen, het meer as 200 keer vir die Engelse klubspan Exeter Chiefs gespeel voor hy verlede seisoen by Ulster aangesluit het. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê Ewers is ‘n fisieke speler met baie ervaring. Hy is oorspronklik van Zimbabwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-466-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….