Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosas-studente steek ‘n Gautengse pastoor se kerk aan die brand na ‘n panga-aanval by ‘n skool
# Jacob Zuma se privaat vervolging van Ramaphosa is tot 6 Februarie volgende jaar uitgestel
# En krieket: Die Afghaanse ster Gurbaz is gekontrakteer vir die Pretoria Capitals in die SA20
# Lede van die studentevereniging Cosas het die kerk van ‘n Gautengse pastoor aan die brand gesteek nadat hy aangekeer is in verband met intimidasie en geweld by die Laerskool Matsediso in Katlehong, Ekurhuleni. Die pastoor en drie ander mense is in hegtenis geneem nadat hy na bewering personeellede met ‘n panga gejaag en sy twee kleinkinders met geweld verwyder het. Die studente het glo die kerk aan die brand gesteek ter ondersteuning van die ma se kant van die familie. Wyksraadslid Xolani Ngwenya veroordeel die gewelddadige voorval:
Die DA doen intussen ‘n beroep op die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, om dringend sekerheidsmaatreëls by skole op te skerp. Die DA se Gautengse woordvoerder oor onderwys, Michael Waters, eis aanspreeklikheid vir die voorval en versoek ‘n hersiening van die skoolveiligheidstrategie om ‘n geweld-vrye leeromgewing te verseker.
# Oudpresident Jacob Zuma se privaat vervolging van president Cyril Ramaphosa is tot 6 Februarie volgende jaar uitgestel. Zuma het in die Hooggeregshof in Johannesburg verskyn om sy saak aktief te hou. Hy beskuldig Ramaphosa dat hy aandadig was na die uitlek van mediese rekords tydens sy wapenskandaalverhoor, wat die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag oortree het. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het aan die hof gesê die nuwe datum laat verdere regsprosesse en gesprekke toe:
# Die mynwerkersvakbond NUM versoek Eskom om meer te fokus op korrupsie deur sekere verskaffers aan sy kragstasies. ‘n Woordvoerder, Thapelo Malekutu, sê die vakbond vra swaarder strawwe vir diegene wat die nutsmaatskappy geplunder het en steeds straffeloos daarmee voortgaan. Volgens Malekutu moet Eskom beskerm word, saam met die ekonomie en betrekkings:
# Krieket: Die paaltjiewagter van Afghanistan, Rahmanullah Gurbaz, sal Pretoria Capitals in volgende jaar se uitgawe van die SA20 verteenwoordig. Hy sal herenig met sy afrigter, Jonathan Trott, wat Afghanistan vroeër vanjaar gehelp het om die eerste keer die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi te haal. Trott het onlangs by Graham Ford oorgeneem. Die 22-jarige Gurbaz sal die eerste keer aan die SA20 deelneem maar het reeds groot indruk gemaak in die Indiese Premierliga en die Internasionale T20 Liga. Hy het 281 lopies aangeteken in die Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-118-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-413-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….