Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se bevolking bereik 63-mljoen met die vroulike bevolking op 51%
# Iran kondig drie dae van rou af na die dood van ‘n Hamas-leier in Teheran
# En, krieket: Die Proteas begin hul opwarmingswedstryd voor die toetsreeks teen die Windies
# Statistieke Suid-Afrika skat die bevolking teen die middel van die jaar op 63-miljoen, met 51-persent vroue. Gauteng het die grootste aandeel met 25,1-persent, met die Noord-Kaap die kleinste op 2,2-persent. Ongeveer 27,5-persent is jonger as 15 en 9,7-persent 60-jaar en ouer. Die voorkoms van MIV is 12,7-persent, met sowat agt-miljoen mense wat daarmee leef. ‘n Woordvoerder van Statistieke SA, Diego Iturralde, sê noemenswaardige migrasie word teen 2026 in Gauteng en die Wes-Kaap verwag:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank gaan teen middel volgende maand die oordrag van 100-miljard-rand se wins uit die land se goud- en buitelandse valutareserwes aan die Tesourie afhandel. Volgens die president, Lesetja Kganyago, is 75-miljard-rand reeds teen 1 Julie oorgedra. Hy sê die stap sal die reserwes herstruktureer en skulduitreiking verminder.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se opgraderingsplanne van vier-miljard-rand aan die Hugenote-tonnel in die Du Toitskloof-berge in die Boland vorder goed. ‘n Tweede pad gaan gebou word sodat voertuie op twee aparte eenrigtingpaaie deur die tonnel kan ry. Sanral sê die projek is nog in die ontwerpfase, maar tenders sal binne die volgende paar maande uitgereik word en kontrakteurs sal met die werk op die perseel begin.
# Iran het drie dae van rou afgekondig na die dood van die Hamas-leier, Ismail Haniyeh, in ‘n sluipmoordaanval in Teheran waarvan die aartsvyand, Israel, beskuldig word. Rusland het die moord veroordeel en waarsku dit kan lei tot ‘n nuwe toename in geweld in die Midde-Ooste. Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het verwys na die verraderlike sluipmoord op sy nabye bondgenoot en broer. Amerika, die Europese Unie en Israel beskou Hamas as ‘n terroriste-organisasie, maar Erdogan beskryf dit as ’n bevrydingsbeweging.
# Krieket: Die Proteas begin vandag met hul opwarmingswedstryd teen ‘n uitnodigings-elftal van die Wes-Indiese Eilande in Trinidad en Tobago voor die reeks van twee toetse. Die Windies het pas van hul toetsreeks in Engeland teruggekeer, terwyl die meeste van die Suid-Afrikaanse spelers die afgelope ses maande nie toetskrieket gespeel het nie. Die snelbouler Kagiso Rabada beskryf dit as ‘n belangrike opwarmingswedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-99-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-420-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….