Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit beklemtoon die nuwe verspreidingsuitdaging midde-in die kragkrisis
# PSiRA hoop die ondersoek na ‘n vermeende onwettige militêre opleidingskamp in Mpumalanga word dié week afgehandel
# En, die Olimpiese Spele: ‘n Veteraanuitsaaier word afgedank vir ‘n beweerde seksistiese opmerking oor Australië se gouemedaljewenners
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika staan voor ‘n nuwe uitdaging in elektrisiteitsverspreiding. Ramokgopa het die media op die hoogte gebring van die land se kragkrisis en gewys op die dringende behoefte om die tariefraamwerk aan te pak, aangesien baie gemeenskappe sukkel met verhoogde tariewe. Hy beklemtoon die kwessie ondermyn die Nasionale Ontwikkelingsplan vir universele toegang, waaraan sy ministerie voorkeur gee:
# Die Reguleringsowerheid vir die Privaatsekerheidsbedryf neem kennis van die voortgesette belangstelling en navrae oor die beweerde onwettige militêre opleidingsbedrywighede op ‘n plaas in Witrivier, Mpumalanga, wat deur Milites Dei-sekerheidsdienste verskaf is. PSiRA se woordvoerder, Mpho Sechoaro, sê die reguleringsliggaam kan geen onderhoude toestaan nie weens die voortgesette ondersoeke. Sechoaro sê PSiRA vertrou hierdie ondersoeke sal teen die einde van die week afgehandel wees:
# AgriSA vra die vinnige bekragtiging van die Wetsontwerp op die Behoud en Ontwikkeling van Landbougrond. Hy betoog Suid-Afrika se landbougrond, wat uiters belangrik is vir die ekonomie, werkskepping en voedselsekerheid, neem vinnig af weens verstedeliking en mynbou. Die organisasie glo die wetsontwerp sal keer dat grond verdeel word en volhoubare landboupraktyke verseker. AgriSA vra onmiddellike wetgewende optrede om dié nie-hernubare bron te beskerm en die langtermyn lewensvatbaarheid te verseker van die landbousektor, wat lewensbelangrik is vir nasionale ontwikkeling en voedselsekerheid.
# Olimpiese Spele: Eurosport het die veteraan Britse kommentator, Bob Ballard, uitgeskop uit sy dekking vir wat beskou word as ‘n seksistiese opmerking oor Australiese vroueswemmers nadat hulle in Parys gouemedaljes gewen het. Hy het verwys na hoe lank dit vroue neem om reg te maak toe lede van die vier-maal-100-meter vryslagspan uit die swemsentrum gestap terwyl hulle feesgevier en vir die skare gewaai het. Ballard het gelag toe sy medekommentator, Lizzie Simmonds, sy opmerking verregaande genoem het. Die voorval het opslae gemaak op sosiale media.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-714-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-391-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Marvel Studios se rolprent Deadpool & Wolverine met Ryan Reynolds en Hugh Jackman as die sterre, het wêreldwyd meer as agt-miljard-rand ingeoes in sy openingsnaweek. Dit is die sesde meeste tot dusver die jaar en meer as 13,6-miljoen mense het kaartjies gekoop om die fliek te sien, wat net soveel is as verlede jaar se lokettreffer, Barbie. Twisters, met Glen Powell in die hoofrol, het tot die tweede plek teruggesak gevolg deur Universal en Illumination se Despicable Me 4.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….