Nuus 15:00
BULLETIN 4 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering waarsku die Amerikaanse tariewe kan Suid-Afrika se ekonomiese groei met 0,2-persent verminder
# MACUA vra die Madlanga-kommissie moet ook die polisie se Operasie Vala Umgodi ondersoek
# En krieket: Indië verslaan Engeland in die naelbyt-vyfde toets om die reeks gelykop te laat eindig
# Die regering sê die nuwe tariewe van 30-persent wat Amerika ingestel het, kan Suid-Afrika se groei met 0,2-persent verminder. Die Ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en van Handel, Nywerheid en Mededinging het op ‘n gesamentlike nuuskonferensie kommer uitgespreek oor die ekonomiese uitwerking op belangrike uitvoersektore soos motorvoertuie, sitrus en wyn. Minister Parks Tau sê die verhoogde onsekerheid het ‘n negatiewe uitwerking op beleggersvertroue en handelsbestendigheid:
# Die Mining Affected Communities United in Action het president Cyril Ramaphosa gevra dat die Madlanga-kommissie dadelik moet ondersoek instel na die polisie se Operasie Vala Umgodi. Woordvoerder Sabelo Mguni sê dit volg na Vrydag se inhegtenisneming van 400 vermeende onwettige immigrante by ‘n myn in Barberton, Mpumalanga. Mguni sê hulle glo die operasie word nie gebruik om sindikate af te breek nie, maar om die leierskap te beskerm terwyl die swakste skakels in die ketting gestraf word:
Nuus uit die buiteland:
# China het vandag sy hoogste waarskuwing vir reënstorms uitgereik, enkele dae nadat dodelike oorstromings dele van Beijing verswelg en ‘n seldsame verskoning van onvoorbereide amptenare tot gevolg gehad het. Die munisipale weerdiens het ‘n rooi waarskuwing uitgereik, die hoogste in ‘n viervlak-stelsel, wat swaar reën tot môreoggend voorspel. Die meeste dele van die hoofstad sal na verwagting oornag binne ses-uur 100-millimeter reën kry, maar afgeleë gebiede kan tussen 150- en 200-millimeter verwag. Beijing is verlede week swaar getref toe minstens 44 mense dood is en nege vermis geraak het in oorstromings in die noordelike voorstede.
# Krieket: Indië het ‘n naelbyt-oorwinning oor Engeland behaal in die vyfde toets om die reeks gelykop te laat eindig met 2-elk. Die gashere het op die laaste oggend net 35-lopies benodig maar met net vier paaltjies oor op die Oval in London. Indië het binne ‘n uur met ses lopies gewen, maar nie voordat die Engelse bouler, Chris Woakes met sy arm in ʼn verband opgestap het nie. Gus Atkinson het dit reggekry om hom teen die boulers te beskerm, maar is uiteindelik uitgeboul. Mohammed Siraj het vyf paaltjies geneem
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-425-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-33-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaans-gebore professor, Michele Dougherty, het geskiedenis gemaak deur die eerste vrou te word wat aangestel is as die Koninklike Sterrekundige in die 350-jarige geskiedenis van die Britse organisasie. Dougherty is gebore in KwaZulu-Natal en het haar liefde vir die ruimte onder die suidelike hemelruim ontdek. Haar baanbrekerwerk met NASA se Cassini-sending en Europa se Jupiter-verkenning het tot wêreldwye erkenning gelei. Sy beklee nou een van Brittanje se mees gesogte wetenskaplike titels. Dougherty hoop haar aanstelling moedig jong meisies aan om groot te droom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….