Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie hou 95 Libiërs aan vir vermeende militêre opleiding in Mpumalanga
# Die Parlement se toesigkomitee is verbind tot ‘n praktiese benadering tot die herbou-proses na die brand
# En, die Olimpiese Spele: Frankryk wil wraak neem vir sy Wêreldbeker-nederlaag in môre se sewes-halfeindstryd
# Die polisie in Mpumalanga het 95 Libiese burgers vir ondervraging in hegtenis geneem nadat hulle by ‘n vermeende militêre kamp in Witrivier aangetref is. Hulle het na bewering wanvoorstellings op hulle visumaansoeke gedoen en aangedui hulle kom na Suid-Afrika vir opleiding as sekerheidswagte. Die polisie ondersoek ook die moontlike bande met ander misdadige optrede. Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sekerheid en Skakeling, Jackie Macie, bevestig die Libiërs is sedert April in die land en word tans deur owerhede ondersoek:
# Die Parlement se toesigkomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur beloof ‘n praktiese benadering tot die herbou van die Parlement na die verwoestende brand van Januarie 2022. Die voorsitter, Carol Phiri, het na ‘n besigtiging van die verwoeste Nasionale Vergadering gesê die herbouprojek wat vanjaar begin het, is op koers en moet teen Mei 2026 afgehandel wees. Sy beklemtoon die projek moet by die neergelegde tydsraamwerk hou:
# Die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, sê hy ondersteun Kamala Harris se veldtog vir die Withuis. Hy het op die sosiale mediaplatform X geskryf hy en sy vrou, Michelle, het hulle vriendin Harris vroeër die week gebel. Hulle het haar meegedeel hulle glo sy sal ‘n fantastiese president van Amerika wees en hulle ondersteun haar ten volle. Die Demokratiese Party sal Harris na verwagting volgende week as sy kandidaat vir November se verkiesing aanwys.
# Olimpiese Spele: Môre se rugby-sewes-halfeindstryd tussen Suid-Afrika en die gasheer, Frankryk, word beskryf as ‘n wraakwedstryd ná die Springbokke Frankryk in die kwarteindronde van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi uitgeskakel het. Die kaptein van Frankryk se vyftienman-span, Antoine Dupont, wat die skeidsregter gekritiseer het na die teleurstellende nederlaag teen die uiteindelike kampioen, het intussen na sewesl oorgeskakel en pak die Blitsbokke in dieselfde stadion, Stade de France. Suid-Afrika kan môremiddag 3.30 ‘n baie vyandige ontvangs verwag.
Die Universiteit van Pretoria sê intussen hy is trots om sy atlete en afrigters te ondersteun wat Span Suid-Afrika in Parys gaan verteenwoordig. Die instelling het meer as 20 lede in die span, onder andere die swemmers Erin Gallagher en Kaylene Corbett, die hokkiespelers Bradley Sherwood en Calvin Davis, en die roeier John Smith. Die tussentydse vise-kanselier, Themba Mosia, sê die universiteit se sportprogramme onder die TuksSport-vaandel, is die voorste ontwikkelings- en elite sportprogram in Suid-Afrika, indien nie Afrika nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-177-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….