Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum-party vra die herroeping van rasgebaseerde wetgewing
# Stanlib waaarsku oor uitdagings om die inflasiekoers op 4,5-persent te hou
# En, die Olimpiese Spele: Coco Gauff en LeBron James is Amerika se vlagdraers tydens die openingplegtigheid
# Die Referendum-party doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om alle rasgebaseerde wetgewing te herroep, en steun sy verbintenis tot nie-rassigheid wat hy in die Parlement gemaak het. Woordvoerder Phil Craig betoog rasgebaseerde beleid het oor drie dekades misluk omdat die basiese oorsake nie hanteer is nie. Craig vra die regering om gelyke geleenthede vir almal te skep en sê die ANC het nie-rassigheid ondermyn deur vol te hou met verouderde beleid. Hy dring aan op optrede na die president se woorde.
# Stanlib Batebestuur waarsku dat die Reserwebank kan sukkel om die inflasiekoers op 4,5-persent te hou weens ‘n infrastruktuur-agterstand en fiskale beperkings wat die koste van noodsaaklike dienste verhoog. Die inflasiekoers is langer as drie jaar al bo 4,5-persent, ondanks gesprekke om die teiken na drie-persent te verlaag. Stanlib se hoofekonoom, Kevin Lings, sê die stygende koste van elektrisiteit, water en gesondheidsorg bepaal steeds die inflasiekoers. Toenemende kommer bestaan dat staatsbepaalde pryse die inflasie- en rentekoerse hoog sal hou, wat die bank sal verhoed om ‘n laer inflasiekoers te haal.
# FNB sê lewensdekking word algemeen gebruik om uitstaande skuld te vereffen, kinders se studie- en onderhoudsgeld te betaal of boedelbelasting te dek. ‘n Produkbestuurder by FNB, Ester Ochse, sê volgens ‘n ondersoek wat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor in 2022 gedoen het, het 42-persent van Suid-Afrikaners in 2021 begrafnisdekking gehad, teenoor 53-persent in 2019. Ochse sê daarbenewens het slegs 10-persent lewensdekking gehad, teenoor 12-persent in 2019:
# Die Stad Kaapstad se direktoraat vir Menslike Nedersettings het meer as 16-duisend hulppakkette aan inwoners van oorstroomde plakkerskampe uitgedeel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vir Saterdag ‘n oranje vlak vyf-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën in Kaapstad en omliggende munisipaliteite. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Carl Pophaim, sê hulle fokus op gebiede soos damme, vleilande en opvangsgebiede waar die water nie oor die volgende paar weke sal wegsak nie:
# Olimpiese Spele: Die tennisster Coco Gauff sal een van Amerika se vlagdraers wees tydens môreaand se openingsplegtigheid in Parys. Die heersende Amerikaanse Opekampioen sluit aan by die NBA-superster LeBron James vir die byeenkoms langs die Seine-rivier. Die 20-jarige Gauff neem die eerste keer deel aan die Spele. Die res van Span VSA het haar en James gekies as vlagdraers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-216-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….