Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra onmiddellike optrede met dienslewerings-uitdagings in plaaslike regering
# Maatskaplike Ontwikkeling in Gauteng ken 2,1-miljard-rand toe aan welsynsorganisasies
# En, krieket: Indië se nuwe afrigter glo Virat Kohli en Rohit Sharma kan nog speel tot met 2027 se eendag-Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa het beklemtoon dat oplossings gevind moet word vir uitdagings met bestuur en oorsig op plaaslike regeringsvlak. Hy het in die Parlement gesê die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sal toesien dat munisipaliteite die nodige ondersteuning ontvang. Ramaphosa sê klem sal geplaas sal word op doeltreffendheid, munisipale skuld en die verbetering van dienslewering, veral die betroubaarheid en bekostigbaarheid daarvan:
# Die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se begroting vir welsynsorganisasies van 2,1-miljard-rand heringestel. Maile sê dit is ‘n toename van 13-persent om voorsiening te maak vir nuwe aansoeke. Die LUR het bevestig 441-miljoen-rand is aan die organisasies betaal, maar 13 is nog uitstaande weens nie-voldoening. Hy sê aansoeke van 23 welsynsorganisasies het van die stelsel verdwyn:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, is op pad na Washington vir ‘n deurslaggewende toespraak voor die Amerikaanse Kongres. Hy noem die besoek ‘n baie belangrike reis te midde van groot politieke onsekerheid nadat president Joe Biden besluit het om nie vir herverkiesing te staan nie en Washington wat druk op Israel plaas vir ‘n skietstilstand met Hamas. Israel se langsdienende premier sal Woensdag die eerste buitelandse leier word wat ‘n gesamentlike sitting van die twee huise vier keer toespreek. Winston Churchill van Brittanje het dit drie keer gedoen.
# Krieket: Indië se nuwe hoofafrigter, Gautam Gambhir, glo die veterane Rohit Sharma en Virat Kohli kan steeds die land in 2027 se eendag-Wêreldbekertoernooi verteenwoordig, mits hulle fiks is. Kohli is nou 35 en Sharma 37. Albei het uit T20’s getree nadat Indië Suid-Afrika verlede maand in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi geklop het. Gambhir, wat van 2003 tot 2016 vir Indië gespeel het, sê Kohli en Sharma het nog baie om die spel te bied, maar hy besef dit is uiteindelik hulle wat die besluit moet neem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-378-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-403-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies sê die besluite wat politieke leiers vanjaar neem sal deurslaggewend wees of die teiken om VIGS as ‘n bedreiging vir openbare gesondheid teen 2030 te beëindig, bereik kan word. Syfers van 2023 toon sowat 1,3-miljoen nuwe besmettings is verlede jaar aangeteken, ‘n styging van 100-duisend in vergelyking met 2022, maar ‘n merkbare daling sedert die hoogtepunt van 3,3-miljoen in 1995. Die langtermyn neiging is steeds baie meer as die teiken van 330-duisend nuwe besmettings volgende jaar. Sowat 40-miljoen mense leef met MIV, die virus wat VIGS kan veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….