Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# CrowdStrike identifiseer die wêreldwye IT-probleem
# Die MK Party se parlementêre leier leier sê die regering van nasionale eenheid het ontstaan uit die ANC se desperate houvas aan mag
# En, motorsport: Haas en Kevin Magnussen se paaie skei aan die einde van die seisoen
# Die uitvoerende hoof van CrowdStrike, George Kurtz, sê die maatskappy werk aktief saam met kliënte wat geraak is deur ‘n fout in ‘n inhoudsopdatering van Windows-bedieners. Dit het gelei tot ‘n ontwrigtende, wêreldwye tegniese onderbreking wat lugrederye vlugte laat terughou, sommige uitsaaiers van die lug gehaal en alles van die bankwese tot gesondheidsorg geraak het. Kurtz benadruk dit is nie ‘n sekerheidsvoorval of ‘n kuberaanval nie. Die probleem is reggestel, met opdaterings beskikbaar op die ondersteuningsportaal. CrowdStrike raai organisasies aan om amptelike kommunikasie-kanale te gebruik.
# Die parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, beskryf die ANC en die DA se regering van nasionale eenheid as ‘n siek grap. Nes oudpresident thabo Mbeki, glo Hlophe ware eenheid kan nie bereik word sonder om kolonialisme en apartheid aan te pak nie. Hlophe het na president Cyril Ramaphosa se toespraak met die Parlementsopening beweer die ANC het die RNE uit desperaatheid gevorm om mag te behou:
# Die Afrika-Ontwikkelingsbankgroep het ‘n lening van 18,85-miljard-rand aan Transnet goedgekeur om sy herstel- en groeiplanne te ondersteun. Die Suid-Afirkaanse regering waarborg die lening van 25 jaar, wat die eerste fase van Transnet se vyfjaar-kapitaalbeleggingsplan van 152,8-miljard-rand befonds. Die plan is om die bedryfsprobleme in die spoor- en hawesektor op te los. Transnet se uitvoerende hoof, Michelle Phillips, verwelkom die befondsing en benadruk die noodsaaklike rol in die stabilisering en verbetering van sy bedrywighede.
# Motorsport: Die Amerikaanse Formule Een-span, Haas, en die Deense renjaer Kevin Magnussen se paaie gaan die einde van die seisoen skei. Hy het in 2017 by Haas aangesluit en in 2022 weer teruggekeer, en was altesaam sewe jaar by die span. Haas gaan volgende jaar ‘n nuwe span renjaers hê wanneer Nico Hulkenberg by Sauber gaan aansluit. Haas moet nog bekendmaak wie saam met die Brit Ollie Bearman gaan jaag. Magnussen sê hy sien uit na die volgende hoofstuk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-54-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-410-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-81-sent per vat.
# En tn slotte: Wetenskaplikes waarsku miljoene mense se lewens is in gevaar tensy dringend opgetree word om die verspreiding van middelweerstandige malaria in Afrika stop te sit. Malaria-parasiete wat die uitwerking van die noodsaaklike middel artemisinien kan afskud, het in Oos-Afrika ‘n vastrapplek gekry. Weerstandsvlakke het in sommige gebiede binne drie jaar skerp gestyg van minder as een-persent tot meer as 20-persent van alle gevalle. Die laaste keer toe weerstand teen ‘n malaria-teenmiddel in Afrika versprei het, het die dodetal onder kinders drievoudig toegeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….