Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se sekretaris sê die sewende Parlement is meer pluralisties om Suid-Afrikaners te verteenwoordig
# Die MK-party is nou die amptelike opposisie in die Parlement
# En, rugby: Die Reds glo hulle kan Wallis in die finale toerwedstryd klop
# Die sekretaris van die Parlement, Xolile George, sê die uiteenlopende verteenwoordiging van die Sewende Parlement is bedoel om die behoeftes van alle Suid-Afrikaners aan te pak. George sê die opening van die Parlement val op ‘n belangrike dag, want die wêreld gedenk Internasionale Mandeladag. Hy sê ook president Cyril Ramaphosa se toespraak is ‘n herdenking van 30 jaar van demokrasie. George is tevrede met die doeltreffendheid van die Parlement:
Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het intussen die MK-party as amptelike opposisie in die Parlement bevestig – ‘n besluit wat die Reëlskomitee gisteraand geneem het. Sy sê MK het die EFF in die algemene verkiesing verbygesteek om Suid-Afrika se derde grootste party te word:
# Die saak van ‘n Johannesburgse student wat aangekla word die moord op die Sandtonse onderwyseres Kirsten Kluyts, is tot 16 Augustus uitgestel vir ‘n voorverhoor in die plaaslike Hooggeregshof. Bafana Mahungela staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade, poging tot verkragting en roof met verswarende omstandighede. Kluyts was swanger toe sy in Oktober verlede jaar in George Lea-park vermoor is. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die staat het die uitslae van DNS-toetse ontvang:
# Die minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, gaan voorstel dat die nasionale regering rampbestuurstoelaes aan munisipaliteite toestaan om natuurrampe te hanteer. Dit volg na die onlangse veldbrande in KwaZulu-Natal wat 14 lewens geëis en honderde huise vernietig het. Die provinsie het nie genoeg geld om sulke rampe te hanteer nie. Hlabisa beoog om die Nasionale Tesourie te nader en beywer hom spesifiek vir ‘n voorwaardelike toelaag vir rampverwante uitgawes, om te verseker plaaslike owerhede het die nodige bronne om die uitwerking van natuurrampe doeltreffend te bestuur.
# Rugby: Die Queensland Reds van Australië glo hulle kan die rigtinglose Wallis môre in ‘n toerwedstryd in Brisbane klop. Die Walliesers het nege wedstryde op ‘n streep verloor, insluitend twee toetse teen die Wallabies, en is die eerste keer in die geskiedenis nie onder die top tien op die wêreldranglys nie. Môre se wedstryd in die Suncorp-stadion is die laaste van die seisoen vir albei spanne. Die Reds se hoofafrigter, Les Kiss, besef die Walliese breier, Warren Gatland is desperaat vir ‘n oorwinning en hy verwag ‘n goeie wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-481-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-463-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….