Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party daag die SABC uit oor die gebruik van die term ‘regering van nasionale eenheid’
# COSATU is ontsteld oor die moord op ‘n forensiese ondersoeker wat die beweerde verhuring van wapens van die Johannesburgse Metropolisie ondersoek het
# En, rugby: Salmaan Moerat voer ‘n Bok-span aan met sewe nuwelinge
# Die MK-party het dringende dokumente by die Hooggeregshof in Johannesburg ingedien teen die SABC se gebruik van die term ‘regering van nasionale eenheid’. MK-leier Jacob Zuma betoog dit mislei die publiek terwyl miljoene mense op die openbare uitsaaier vertrou vir nuus. Hy sê die huidige reëlings in Suid-Afrika voldoen nie aan die definisie vir so ‘n regering nie. Die SABC het MK se bewerings verwerp en sê die party moet die gevestigde klagte-prosedure volg.
# COSATU het sy kommer uitgespreek oor die moord op die forensiese ondersoeker Zenzele Benedict Sithole wat ‘n saak ondersoek het oor die beweerde verhuring van wapens deur die Johannesburgse Metropolisiedepartement. Sithole, van die stad se Groep- Forensiese en Ondersoekdiens, het die beweerde gebruik van JMPD-wapens in transitorooftogte ondersoek. ‘n Aantal beamptes van die JMPD het glo wapens aan misdadigers verhuur. Die woordvoerder, Zanele Sabela, het geregtigheid geëis:
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, lei ‘n toesigbesoek aan gebiede wat geraak is deur die veldbrande waartydens meer as 200 gesinne hulle huise verloor het in Kenville, en ses brandbestryders dood is in Boston. Volgens Ntuli het die brand ook boere en lewende hawe geraak en 30-miljoen-rand se skade veroorsaak. Die premier benadruk dis noodsaaklik dat die regering die gebied as ‘n rampgebied verklaar. Hy vra ook samewerking om toekomstige brande te voorkom:
# Die ombud vir Verbruikersgoedere en -dienste ondersteun die Nasionale Verbruikerskommissie se aanslag teen die verkoop van produkte wat verval het. Uitvoerende hoof Queen Munyai beklemtoon verbruikers se reg op gehalte goedere ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming. Sy wys daarop dat veral verbruikers in landelike gebiede kwesbaar is vir misleidende gebruike, en beklemtoon die belangrikheid van voldoening. Die kommissie se veldtog het in die Capricorn-distrik in Limpopo begin. Munyai het ook samewerking met Suid-Afrikaanse universiteite aangekondig om landelike verbruikers oor hul regte op te voed.
# Rugby: Salmaan Moerat gaan die Springbokke die eerste keer aanvoer wanneer hy ‘n groep met sewe nuwelinge Saterdag in die heel eerste toets teen Portugal in Bloemfontein lei. Die nuwelinge in die opdrafspan is die voormalige kaptein van die Junior Springbokke, Phepsi Buthelezi op flank, Johan Grobbelaar op haker en Jan-Hendrik Wessels langs hom op stut. André-Hugo Venter, Ruan Venter, Morné van den Berg en Quan Horn kan hulle toetsdebuut van die bank af maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-547-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-438-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….