Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Drakenstein-munisipaliteit ontruim inwoners van Newton oor vrese dat ‘n damwal kan meegee
# Kaapstad waarsku oor begrafplaas-operasies te midde van swaar reën
# En, rugby: Warren Gatland vra meer dissipline van Wallis in die tweede toets teen Australië
# Die Drakenstein-munisipaliteit in die Wes-Kaap het inwoners van Newton in Wellington ontruim te midde van vrese dat ‘n damwal kan meegee. Dit volg na swaar reën, met nog neerslae wat vandag verwag word. Die Weerdiens waarsku oor nog intensiewe kouefronte dié week, met die eerste een wat vandag verwag word en die ander môre en Saterdag. Weervoorspeller Stella Nake sê die kouefronte bring koue, nat en winderige toestande mee:
Kaapstad se Departement Ontspannings- en Parke waarsku intussen oor moontlike vertragings en veranderings aan begrafnisplanne weens stygende watertafels in begraafplase. Die departement hou begraafplaasoperasies fyn dop te midde van voortdurende reën, wat die grawe van grafte en begrafnisreëlings ontwrig. Families en begrafnisondernemers word gevra om saam te werk en versigtig te wees. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, beveel ook aan mense moet betyds opdaag om parkeeropeenhoping te verminder:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns en Kultuur, Matome Chiloane, besoek die gesinne van leerders wat gister in ‘n ongeluk by Carletonville dood is. Twaalf leerders en die bestuurder het gesterf toe ‘n bakkie hulle skoolbussie getref het, waarna dit gerol en in vlamme uitgebars het. Elf leerders van Rocklands Primary en een van Laerskool Blyvooruitsig is dood. Sewe ander sterk in die hospitaal aan. Woordvoerder Steve Mabona sê Chiloane is hartseer oor die verlies.
# Rugby: Die Walliese afrigter, Warren Gatland, vra meer dissipline van sy span in Saterdag se tweede toets teen Australië in Melbourne. Die Walliesers het verlede naweek hulle agtste agtereenvolgende nederlaag gely toe hulle 25-16 teen die Wallabies verloor het. Hulle is ook sonder die ervare agsteman Aaron Wainwright en die vleuel Josh Hathaway weens beserings. Gatland verwag die gashere sal voet neersit in Melbourne na die oorwinning in hulle eerste wedstryd onder nuwe afrigter Joe Schmidt. Wallis het laas in 1969 ‘n toets in Australië gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-490-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-36-sent per vat.
# Ten slotte: TransUnion berig meer as die helfte van Suid-Afrikaners monitor nou hulle kredietverslae met die doel om hulle kredietgradering te verbeter en voor te berei vir nuwe kredietrekenings. Die neiging toon beter bewustheid te midde van ekonomiese uitdagings en ‘n hoë risiko van bedrog. Die studie lig die aansienlike voordele uit van kredietmonitering, wat beter finansiële bestuur en toegang tot krediet meebring. Lee Naik van TransUnion Africa sê die doeltreffende monitering lei tot die verbetering van kredietprofiele te midde van ‘n veranderende finansiële landskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….