Nuus 15:00
BULLETIN 4 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president en die kabinet vorm gesamentlik die uitvoerende gesag
# De Lille en Sotyu is toegewy aan vennootskappe om toerismegroei te bevorder
# En, krieket: Chloe Tryon keer terug na ‘n besering en is reg om ‘n verskil te maak in die T20-reeks teen Indië
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê in die raamwerk van die regering van nasionale eenheid vorm die kabinet saam met president Cyril Ramaphosa die uitvoerende gesag. Die minister het gepraat na die inhuldiging van adjunkpresident Paul Mashatile, 32 ministers en 43 adjunkte. Ntshavheni sê die nuwe nasionale gesag, insluitend adjunkministers van verskeie partye, verteenwoordig die verkiesings-uitslag en is inklusief, met demografie, die jeug en geslag voorop:
In nog ‘n verwikkeling het die minister van Toerisme, Patricia de Lille, en haar adjunk, Maggie Sotyu, hulle vasberadenheid bevestig om die departement te lei en met alle toerisme-sektorvennote saam te werk vir groei. Woordvoerder Zara Nicholson sê De Lille is verbind tot ‘n voortgesette vennootskap tussen die regering en die privaat sektor. Sy sê die bedryf floreer met toeriste-aankomste in Suid-Afrika wat die afgelope jaar toegeneem het:
# Die Stad Kaapstad het meer tyd van die Nasionale Kernkragreguleerder gevra om oor die toekomstige werksaamhede van die Koeberg-kernaanleg te besluit. Dit is weens kommer oor stedelike ontwikkeling en veiligheid. Verskeie veiligheidskwessies is in 2022 in ‘n verslag van die Internasionale Atoomenergie-agentskap uitgelig, insluitend krake en skade aan geboue waarin die waterreaktors geleë is en ‘n wanfuksionele monitorstelsel. Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskapsomgewing dreig met regstappe as Koeberg toestemming kry om sy bedrywighede voort te sit.
# Krieket: Die Protea-vroue se reeks van drie T20-wedstryde teen Indië begin môre in Chennai. Indië het die Suid-Afrikaners geklop in ‘n eenmalige toets, maar die Proteas verskuif nou die fokus na die kortste formaat met hulle voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi in Bangladesj in Oktober. Die veelsydige Chloe Tryon keer terug na ‘n besering en hoop om ‘n groot verskil te maak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-763-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-71-sent per vat.
# En, ‘n kommissie van ondersoek, onder voorsitterskap van die afgetrede regter Sisi Khampepe, het die haglike lewensomstandighede onthul in vermeende gekaapte geboue in sentraal Johannesburg. Ná die tragiese brand in die Usindiso-gebou waarin 77 mense dood is, het die kommissie inspeksies hervat en kommerwekkende kwessies soos oorbevolking, ‘n gebrek aan lopende water, ligte, branduitgange en noodtoerusting in vyf geboue gevind. Inwoners erken die gevare en sê weens finansiële beperkings kan hulle nie na veiliger blyplek trek nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….