Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Standard Bank-kliënte meld ‘n beweerde sekerheidsbreuk en verlies van fondse aan
# Die Mineraleraad gaan by die nasionale dialoog betrokke raak om kritieke uitdagings aan te pak [
# En, rugby: Rassie Erasmus laai die Bok-span met Wêreldbeker-wenners vir die eerste toets teen Ierland
# Kliënte van Standard Bank het beweerde reuse sekerheidsoortredings op sosiale media aangemeld. Talle kliënte het bedrieglike transaksies en vermiste fondse uitgewys. Baie kliënte sê hulle kan nie hul kaarte deur die toepassing blokkeer nie, hul kla hulle moet lank aanhou by inbelsentrums en oor die onvermoë om die bedrog-blitslyn te bereik. Dit is nog onduidelik wat die sekerheidsbreuk veroorsaak het. Standard Bank het die afgelope paar jaar verskeie stelselonderbrekings ervaar, wat gelei het tot leierskapveranderings om inligtingstegnologie-bestendigheid en bedrywighede te verbeter.
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê hy sal aktief betrokke raak by die komende nasionale dialoog om kritieke uitdagings in energie, vervoerlogistiek, misdaad en korrupsie aan te pak. Die raad glo die skeiding van die Minerale- en Energie-portefeuljes sal die fokus plaas op wetgewende verbeterings om mynboubeleggings ‘n hupstoot te gee. Tebello Chabana van die raad sien daarna uit om saam met die nuwe regering te werk om ‘n veilige, moderne en beleggingsvriendelike mynbedryf te bevorder, sowel as die bevordering van volhoubare ekonomiese groei en om armoede en ongelykheid uit te roei:
Die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika het intussen vertroue uitgespreek in die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se heraanstelling en leierskap. Die hoofsekretaris, Kwena Manamela, hoop op verbeterde verhoudings en die vinnige instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering. Manamela het klem gelê op die aandag wat moet geskenk word aan uitdagings en ‘n verbeterde verpleegsektor, veral met die dreigende aftrede van die helfte van die verpleeg-werkersmag:
# Die Batebeslagleggingseenheid het beslag gelê op ‘n luukse Jaguar-sportnutsvoertuig en twee eiendomme ter waarde van 25,5-miljoen-rand, wat verbind word met die voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede. Sy en 21 medebeskuldigdes word aangekla van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery vir beweerde ongerymdhede met ‘n vullisverwyderingstender van 320-miljoen-rand. Volgens die eenheid is die eiendomme waarop beslag gelê is befonds deur betalings aan El Shaddai, een van vier maatskappye wat by die tender betrokke was. Die hofsaak duur voort in die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Durban.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het ‘n ervare groep met 20 Wêreldbeker-wenners aangewys vir die eerste toets teen Ierland Saterdag op Loftus. Daar is agt veranderings aan die span wat Wallis 10 dae gelede in Londen 41-13 getroef het. Erasmus verwelkom terug kaptein Siya Kolisi, Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Handré Pollard, Marco van Staden, RG Snyman en Gerhard Steenekamp. Die veelsydige agterspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu is op die bank ingesluit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-603-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….