Nuus 15:00
BULLETIN 31 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Makate is vol vertroue Appèlhof sal sy eis van 9.4-miljard-rand vir “Please Call Me” goedkeur
# Gauteng se Onderwysdepartement wys 2,8-miljard-rand toe om oorvol skole teen te werk
# En krieket: ‘n Voormalige kaptein is terug in Zimbabwe se groep na sy skorsing vir weddenskappe
# Die skepper van “Please Call Me”, Nkosana Makate, sê hy is vol vertroue die Appèlhof sal Vodacom dwing om hom 9,4-miljard-rand se vergoeding te betaal. Makate het Vodacom se vroeëre aanbod van 47-miljoen-rand verwerp. Die Konstitusionele Hof het Vodacom nou verlof tot appèl toegestaan en kritiseer die Appèlhof omdat hulle bewyse geïgnoreer en regsreëls verontagsaam het in hul vorige hantering van die saak. Makate sê die appèl sal nou tot die volgende besluit lei:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het 2,8-miljard-rand in die 2025/26-boekjaar toegewys aan infrastruktuur om die breër uitdaging van oorvol skole teen te werk. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê omtrent 1,5-miljard-rand word toegewys aan die bou van nuwe skole en skole wat vervang word. Hy sê 615-miljoen-rand word bewillig vir verbeterings en byvoegings, soos mobiele klaskamers en selfbouprojekte, en 166-miljoen-rand sal vir opknapping aangewend word:
# Die voorsitter van die taakmag vir die B20-volhoubare voedselstelsels, Debra Mallowah, waarsku die wêreldwye voedselkrisis is nie meer bloot ‘n bespiegeling nie, maar ‘n harde werklikheid wat dringende optrede vereis. Sy het tydens ‘n aanlyn rondetafelgesprek van B20 Suid-Afrika die krisis ‘n ingewortelde mislukking genoem wat alle streke en inkomstegroepe raak. Mallowah het vier dringende voorkeure uiteengesit: hervorming van voedselstelsels, inklusiewe vernuwing, handelsdoeltreffendheid en volhoubare landbou. Sy sê die volgende vyf jaar sal bepaal of die wêreld toenemend hongerte, ekonomiese skokke en omgewingskade kan vermy.
# Iran beskryf nuwe Amerikaanse sanksies gemik op ‘n skeepsryk onder beheer van die seun van ‘n voorste politieke raadgewer as kwaadwillig. Die Amerikaanse Tesourie het beperkings ingestel op meer as 115 mense, ondernemings en skepe wat beskuldig word dat hulle die verkoop van Iranse en Russiese olie bevorder. Dit sluit in ‘n vloot wat na bewering bedryf word deur Mohammad Hossein Shamkhani, die seun van Ali Shamkhani, ‘n voorste politieke raadgewer vir opperleier ajatolla Ali Khamenei. Woordvoerder Esmaeil Baqaei sê die sanksies ondermyn Iran se mense se ekonomiese ontwikkeling en welstand.
# Krieket: Die 39-jarige voormalige Zimbabwiese kaptein, Brendan Taylor, kan dalk weer sy land verteenwoordig nadat hy ingesluit is in die groep vir die tweede toets teen Nieu-Seeland. Dit volg nadat hy ‘n skorsing van drie-en-‘n-half-jaar uitgedien het vir uitkomsweddenskappe tydens ‘n toer in Indië. Hy het verduidelik dat hy kokaïen gebruik het en toe afgepers is, maar nooit die uitslag van wedstryde probeer manipuleer het nie. Taylor het tussen 2004 en 2021 meer as twee-duisend-300 lopies in 34 toetse aangeteken. Hy het Zimbabwe ook in T20’s en eendag-wedstryde verteenwoordig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-472-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-301-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….