Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering van nasionale eenheid word aangemoedig om vinnig blokkasies vir die ontsluiting van die ekonomie te verwyder
# City Power-tariewe in Johannesburg styg met 12,72%
# En, rugby: Die Bokke dink net ‘Ierland’ terwyl die toetsweek nader
# Cosatu doen ‘n beroep op die regering van nasionale eenheid om vinnig te beweeg en om sodra die Kabinet aangestel is, blokkasies uit die weg te ruim vir die ontsluiting van die ekonomie. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê dit is van kritieke belang vir die nasionale Tesourie om sy verbintenis na te kom om te sien waar brandstofbelasting verminder kan word, asook om voort te gaan met pogings om te verseker Eskom kan betroubare en bekostigbare elektrisiteit verskaf, en minder afhanklik word van onbekostigbare dubbelsyfertariefverhogings:
# Nersa het City Power se elektrisiteitstariefverhoging van 12,72-persent vir Johannesburgers, vanaf 1 Julie goedgekeur. Ontvangers van die Uitgebreide maatskaplike pakket staar ‘n toename van 6,21-persent in die gesig. City Power sal ‘n maandelikse diensfooi van 70-rand en ‘n netwerkkapasiteitsheffing van 130-rand instel vir residensiële voorafbetaalde kliënte, met die doel om volhoubare dienslewering te midde van stygende lewenskoste te balanseer. City Power en die Stad Johannesburg is ook onder druk om Eskom-skuld van een-miljard-rand te vereffen, na aanleiding van ‘n onlangse hofbevel te midde van gespanne finansiële toestande vir beide instellings.
# Die Algemene Werkersvakbond eis die herinstelling van werkers in die Green Army-program in Gauteng op ‘n permanente basis en ordentlike lone asook ‘n aansienlike uitbreiding van die program. Die president van Giwusa, Mametlwe Sebei, sê die wyse waarop hierdie aangeleentheid hanteer is getuig van swak beplanning en ‘n gebrekkige begrip van volhoubaarheid. Sebei sê om menslike nedersettings in stand te hou en teen die klimaat en infrastruktuur bestand te maak is ‘n sinvolle en veiliger besteding van openbare fondse en juis daarom behoort hierdie program uitgebrei te word:
# Die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika se jeugveldtog vereer toekomstige omgewingsleiers. Sommige erkende leiers sluit in Dean Carlisle, wat Lessons in Conversation begin het en agt-duisend-500 kinders in 11 Afrikalande onderrig het. Esethu Cenga het Rewoven Africa begin wat hom toespits op tekstielherwinning vir volhoubare modes. Die Sirkulêre Ekonomie-ontleder van die fonds, Didi Mathibe, word ook vereer vir haar stryd teen plastiekbesoedeling met innoverende afvalverminderingstrategieë. Die veldtog is daarop gemik om die Suid-Afrikaanse jeug te bemagtig om kampvegters te wees vir volhoubaarheid om die planeet se toekoms te beskerm.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, en sy span het hulle oefenkamp vandag afgehandel en dink net ‘Ierland’ in aanloop tot die openingtoets teen hulle aartsvyand aanstaande Saterdag op Loftus Versfeld. Erasmus is tevrede met die nuwe strukture terwyl die groep gereed maak om aanstaande week net op die toets te fokus. Hulle keer die naweek huis toe om tyd by hulle gesinne deur te bring en kom weer Sondag in Pretoria byeen. Erasmus sal Dinsdag sy wedstrydgroep vir die Ierland-toets aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-536-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….