Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geraldine Fraser-Moleketi sê die 2024-verkiesing ontbloot toenemende krake in die samelewing
# Verbruikersvertroue hou aan herstel ten spyte van politieke onsekerhede
# En, rugby: Die nuwe afrigter van die Wallabies erken hy was nog nooit so onvoorbereid nie
# Die voorsitter van die Thabo Mbeki-stigting, Geraldine Fraser-Moleketi, sê die 2024-verkiesing het toenemende samelewingsverdelings in Suid-Afrika aan die lig gebring. Sy het op ‘n nuuskonferensie van nege stigtings gepraat, waaronder die Steve Biko- en die Chief Albert Luthuli-stigtings. Sy het kwessies soos welvaartongelykheid, stedelike-landelike gapings en onvoldoende bestuur benadruk. Die stigtings doen ‘n beroep vir ‘n nasionale dialoog om die land te verenig, ‘n gedeelde visie te smee en Suid-Afrika se demokrasie te versterk:
# FNB se hoofekonoom, Mamello Matikinca-Ngwenya, het kennis geneem van die styging in die FNB/BER Verbruikersvertroue-indeks ondanks onsekerhede oor die samestelling van Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid. Die indeks het in die tweede kwartaal van 2024 tot minus-12 gestyg, vanaf minus-15 in die eerste kwartaal, sy hoogste vlak in 18-maande. Die styging word aangedryf deur beter ekonomiese vooruitsigte en sentiment oor die aankoop van duursame produkte. Matikinca-Ngwenya beklemtoon die toename het hoofsaaklik vertroue in die middel- en lae-inkomste huishoudings ‘n hupstoot gegee, terwyl hoë-inkomste vertroue onveranderd gebly het:
# Salarisse in Suid-Afrika het in Mei effens herstel en die vlakke van 2023 verbygesteek te midde van ononderbroke kragvoorsiening en ‘n verbeterde sake-omgewing. Die BankservAfrica Take-home Pay-indeks dui op ‘n gemiddelde nominale salaris van 15-duisend-888-rand, wat ‘n tien-persent styging is sedert ‘n jaar gelede. Aangepas vir inflasie het salarisse 14-duisend-en-15-rand bereik, wat ‘n 4,5-persent styging is. Vooruitsigte stem ooreen met die voorspellings van die Reserwebank van ‘n positiewe tendens vir 2024, ondanks voortslepende ekonomiese uitdagings soos hoë rentekoerse en lewenskoste.
# Johannesburg Water sê Rand Water se instandhoudingswerk by die Zwartkopjes- en Daleside-pompstasies is voltooi en albei stelsels werk 100-persent. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê stelsels wat van die Daleside-pompstasie water kry, insluitend Orange Farm, Ennerdale en die Lawley-stelsels, bly laag maar verbeter geleidelik. Dit behoort oor die volgende twee tot drie dae verder te verbeter:
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het die verwagtinge getem voor sy eerste wedstryd in beheer teen Wallis volgende week, en erken hy was nog nooit so onvoorbereid nie. Die Nieu-Seelander is in Januarie aangestel om die span te herbou ná Eddie Jones se rampspoedige termyn en hy gee toe hy leer nog van die spelers ken. Schmidt het Ierland tot bo op die ranglys gekry en toe die All Blacks gehelp om verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd te haal. Hy moet nou ‘n nuwe 38-speler-groep tot 23 verminder en ‘n kaptein aanwys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-115-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….