Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee SANW-soldate is dood in ‘n mortieraanval in die DRK
# Geen planne om die KZN provinsiale wetgewer na uLundi te verskuif nie
# En, rugby: Ardie Savea sê die All Blacks moet vas staan teen die vuurkrag van Engeland se voorspelers
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het gister ‘n dodelike mortieraanval op hul basis in Sake, Oos-Demokratiese Republiek die Kongo, bevestig. Die aanval het twee sterftes en twintig beserings tot gevolg gehad. Vier soldate is kritiek beseer en in die hospitaal opgeneem, terwyl dié met geringe beserings binnekort ontslaan sal word. Weermagwoordvoerder Siphiwe Dlamini sê die families van die oorledenes is ingelig en prosedures om hulle oorskot huis toe te bring is reeds onderweg:
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, sê daar is geen onmiddellike planne om die provinsiale wetgewer van Pietermaritzburg na uLundi te verskuif nie. Om die wetgewer te verskuif was een van die verkiesingsbeloftes van die IVP. Dit is in 2004 na Pietermaritzburg verskuif toe die ANC die mag by die IVP oorgeneem het. Ntuli het die nuutsaamgestelde uitvoerende raad van KwaZulu-Natal aan koning Misuzulu ka Zwelethini voorgestel:
# Twee polisiebeamptes van 47-jaar-oud is tot tien-jaar tronkstraf gevonnis vir afpersing en korrupsie in die Palm Ridge Handelsmisdaadhof in Ekurhuleni. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê in November 2020 het die polisie ‘n wenk ontvang oor die verdagte wat klere met die SAPD-embleem op gedra het in Rivonia. Mjonondwane sê met hul aankoms het Lehlogonolo Tsagane en Jabulani Ngobeni onwettig 1,5-miljoen-rand by Maxwell Chiyangwa geëis, maar het toe op 14-duisend-rand geskik nadat hulle Chiyangwa met arrestasie gedreig het:
# Rugby: Onderkaptein, Ardie Savea, sê die All Blacks moet vas staan teen die vuurkrag van Engeland se voorspelers om ‘n herhaling te voorkom van hulle skoknederlaag in 2019. Nieu-Seeland speel hulle eerste wedstryd van die jaar op 6 Julie in Dunedin teen Engeland voor die spanne die daaropvolgende Saterdag op Edenpark in Auckland weer teen mekaar uitdraf. Die All Blacks het die besoekers laas in 2018 geklop. Engeland het Nieu-Seeland in 2019 in die halfeindstryd van die Wêreldbeker met 19-7 uitgeskakel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-442-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-307-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-75-sent per vat.
# En, die Stad Kaapstad het 3,5-miljard-rand oor ‘n tydperk van drie jaar van Nedbank bekom vir ‘n infrastruktuurprojek. Die bedrag is deur die metroraad goedgekeur en is deel van projek van 39,5-miljard-rand om teen 2027 120-duisend werksgeleenthede in konstruksie te skep. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die kontant-inspuiting is die grootste infrastruktuur-belegging ooit in ‘n metro in Suid-Afrika. Die stad het ook 2,7-miljard-rand van die Internasionale Finansieringskorporasie en 1,95-miljard-rand van die Franse Ontwikkelingsagentskap ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….