Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Progressive Caucus bespreek die pad vorentoe na die vertrek van UDM en Al Jama-ah
# Die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris eis ‘n ondersoek na ‘n aanranding deur beamptes
# En, rugby: Scott Barrett word aangewys as die nuwe All Blacks-kaptein
# Die Progressive Caucus bespreek die pad vorentoe na die vertrek van die UDM en Al Jamah-ah, wat by die regering van nasionale eenheid aangesluit het. Volgens die leier van ATM, Vuyo Zungula, sal die oorblywende lede, die EFF, MK-party, ATM en kleiner partye, in Suid-Afrika se beste belang saamwerk. Zungula het ook beklemtoon die ATM sal nie by die regering van nasionale eenheid aansluit nie. Geen leier is verkies nie, maar die koukus sal rolle en strukture bespreek om bewustheid vir die rol in die opposisie te kweek.
# Die kommissaris van Polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het ‘n ondersoek gelas na wangedrag deur beamptes, soos vasgevang op geslotebaantelevisie in Tongaat. Die beeldmateriaal toon hoe beamptes ‘n man aanrand sonder dat hulle uitgelok is. Mhkwanazi eis ‘n volledige verslag en regstellende optrede teen diegene wat die gedragskode en die Grondwet oortree. Die woordvoerder van die Polisie, Robert Netshiunda, maan beamptes om die wet te gehoorsaam:
# Die Oos-Kaapse Vervoerdepartement het bevestig die bedrywighede by die Mthatha-lughawe is hervat. Vlugte is tydens ‘n brandbestryders-betoging herlei na die King Phalo-lughawe in Oos-Londen. Die woordvoerder, Unathi Binqose, sê vliegtuie kan nou veilig land met munisipale brandbestrydersdienste wat gereed is om ‘n herhaling van diensonderbrekings te voorkom. Die redes vir die voortslepende betoging moet nog vasgestel word:
# Die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die intense fase van gevegte in Rafah in die suide van Gaza is byna verby, maar dit beteken nie dat die oorlog op ‘n einde is nie. Hy benadruk die gevegte sal voortduur tot Hamas van sy mag ontneem is. Hy voeg by die Israeliese weermag gaan binnekort troepe na die grens met Libanon ontplooi, waar gevegte met Hizbollah aan die toeneem is. Netanyahu het weer die idee verwerp dat die Palestynse owerheid in die Wesoewer Gaza moet bestuur in die plek van Hamas.
# Rugby: Scott Barrett is deur die hoofafrigter, Scott Robertson, as die All Blacks-kaptein aangewys vir sy eerste spangroep vir die reeks van twee toetse teen Engeland aanstaande maand. Barrett neem oor by Sam Cane wat Nieu-Seeland sedert 2020 aangevoer het. Robertson het losvoorspeler en wêreld speler van die jaar vir 2023, Ardie Savea, as onderkaptein aangewys saam met Barrett se broer, die senter, Jordie. Daar is drie Barretts in die groep, met ouer broer, Bauden, die wêreld speler van die jaar in 2016 en 2017, die ander een.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-113-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….