Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit oorweeg regstappe oor wanbestuur by pensioenfonds
# Die Afrika-entstofvervaardigingsbedryf sal teen 2040 meer as 60% van die vasteland se entstofdosisse verskaf
# En, rugby: Die Bulle sal nie bes gee nie teen Glasgow Warriors in die VRK-eindstryd
# Die vakbond, Solidariteit, oorweeg regstappe weens kommer oor wanbestuur van die staatsdienspensioenfonds. Die doel is om die pensioenarisse se belange te beskerm te midde van vrese van nog wanbestuur en moontlike finansiële verliese. Kenners het by ‘n onlangse beraad kwessies uitgelig insluitende ongerymdhede in die verlede en nuwe wetgewing wat vroeë onttrekking van pensioengeld magtig. ‘n Woordvoerder van Solidariteit, Helgard Cronjé, is bekommerd die fonds, die grootste pensioenfonds in Afrika, kan verliese ly indien staatsdienswerkers hulle fondse voortydig onttrek.
# Die Afrika-entstofvervaardigingsbedryf sal na verwagting teen 2040 meer as 60-persent van die vasteland se entstofdosisse verskaf, teenoor sowat twee-persent tans. ‘n Befondsde skema ter waarde van 18-miljard-rand, die African Vaccine Manufacturing Accelerator, sal van stapel gestuur word om entstofproduksie in Afrika ‘n hupstoot te gee. Die Franse president, Emmanuel Macron, het aan die Global Forum for Vaccine Sovereignty and Innovation in Parys gesê, hierdie projek het ten doel om ongelykheid met toegang tot entstof aan te pak en entstowwe vir siektes soos cholera en malaria, wat baie Afrika-kinders aantas, te vervaardig.
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het die nuwe uitvoerende raad vir die provinsie se sewende administrasie aangekondig. Ná die ANC se 62-persent verkiesingsoorwinning het Mabuyane departemente herstruktureer om werkskepping en belegging te bevorder, finansies van ekonomiese ontwikkeling te skei en openbare werke en menslike nedersettings saam te voeg. Mabuyane het op ‘n nuuskonferensie die gemeenskap versoek om die nuwe LUR’e te ondersteun in hul pogings om die provinsie doeltreffend te dien, veral wanneer aandag geskenk word aan onlangse uitdagings soos die vloedramp in Kariega:
# Stellenbosch Universiteit het die Mariner 4.0-toepassing bekendgestel, ‘n rewolusionêre stelsel wat seevaarders help teen bewegingsiekte. Die stelsel monitor bewegingsiekte intyds en verminder die voorkoms en die erns van die simptome. Die navorser by die universiteit, Nicole Taylor, sê die toepassing is aan boord die SA Agulhas twee ingespan, versamel data met individuele ervarings en verskaf waardevolle insig vir die beplanning van vaarte en skeepsontwerp:
# Rugby: Die Bulle sal glad nie bes gee nie in hulle tuiswedstryd môre teen die Glasgow Warriors in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap. Hulle wil die tweede Suid-Afrikaanse span word om die titel te wen. ‘n Oorwinning hou bykomende betekenis in vir Suid-Afrikaanse rugby. Dit sal bevestig die land is een van die beste in die wêreld nadat die span verlede jaar in Frankryk die tweede keer na mekaar die Wêreldbeker gewen het en die Haaie verlede maand die Uitdaagbeker verower het. Die wedstryd begin môreaand om ses-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-938-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….