Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Menseregtekommissie daag ‘n DA-LP voor die Gelykheidshof oor beweerde haatspraak
# Die ANC-jeugliga prys die ANC se benadering tot die regering van nasionale eenheid
# En, gholf: Tiger Woods se seun Charlie wen ‘n Amerikaanse Junior Amateur-kwalifiseringstoernooi
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gaan ‘n DA-parlementslid, Renaldo Gouws, voor die Gelykheidshof in Gqeberha daag vir beweerde haatspraak in ‘n YouTube-video van 2010. In die video vra Gouws in uiters aanstootlike taal vir die uitwissing van swartmense. ‘n Woordvoerder van die kommissie, Wisani Baloyi, sê hulle het die saak ondersoek volgens die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie:
# Die ANC-jeugliga loof die party vir sy strategiese benadering oor die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid. Die liga se president, Collen Malatji, het die leierskap se verbintenis tot eenheid, bestendigheid en vooruitgang geprys. Malatji verwelkom die insluiting van ongeveer 20 jong parlementariërs en die beduidende verteenwoordiging van lede onder die ouderdom van 40:
# Die Stad Tshwane doen ‘n dringende beroep op ondernemings en inwoners om kos en noodsaaklike goedere te skenk om hawelose skuilings, wat worstel met kritieke tekorte, te ondersteun. Vertragings in provinsiale toelaes veroorsaak dat verskeie organisasies sukkel om hul bedrywighede in stand te hou, met van hulle wat binne weke kan sluit. Goedere soos gebottelde water, blikkieskos, mieliemeel en toiletware kan by die Tshwane Food Bank in President Burgersstraat 450 in Pretoria afgelewer word. Die adjunk-burgemeester, Nasiphi Moya, sê die gemeenskap se ondersteuning is noodsaaklik in hierdie moeilike tyd.
# Die VN se menseregtekantoor sê Israel se weermag het dalk herhaaldelik die oorlogswette oortree en het nie tussen burgerlikes en soldate onderskei nie. Dit volg op die beoordeling van ses Israeliese aanvalle in Gaza tussen 7 Oktober en 2 Desember wat ‘n reuse aantal ongevalle veroorsaak het. Israel se permanente sending by die VN in Genève het die ontleding as “feitlik, wetlik en sistematies gebrekkig” beskryf. Owerhede in Gaza beweer Israel se offensief ná Hamas se dodelike aanval op 7 Oktober het die dood van meer as 37-duisend Palestyne veroorsaak.
# Gholf: Die 15-malige major-kampioen, Tiger Woods, se seun, Charlie Woods, het gekwalifiseer vir die Amerikaanse Junior Amateur-kampioenskap. Hy het 1-onder 71 behaal en eerste geëindig in ‘n kwalifiseringstoernooi by die Eagle Trace-gholfklub in Coral Springs, Florida. Charlie was een van vier gholfspelers wat ‘n plek in die Amerikaanse Junior Amateurspel verseker het. Hy volg in sy pa se voetspore, want Tiger het dieselfde toernooi in 1991, 1992 en 1993 gewen. Tiger was die enigste driemalige kampioen in die byeenkoms en was Charlie se huidige ouderdom, 15-jaar-oud, toe hy gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-364-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-339-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….