Nuus 15:00
BULLETIN 14 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shell verloor sy hofsaak oor aflandige verkenning
# Carrim word die eerste getuie voor die Madlanga-kommissie om verwys te word vir strafregtelike vervolging
# En krieket: Hasan word die eerste kolwer van Bangladesj om ‘n toets-honderdtal in Australië aan te teken
# Die Konstitusionele Hof het beslis Shell se aflandige olie- en gas-verkenning kan nie voortgaan nie. Dis ‘n terugslag vir die onderneming ná jare se regsuitdagings deur gemeenskappe wat geraak word en omgewingsgroepe. Dit stel die Appèlhof se uitspraak van 2024 tersyde, wat aflandige verkenning gesteun het. Die beslissing sal na verwagting olie- en gasverkenning langs Suid-Afrika se kuslyn verder vertraag. Voortdurende regsgedinge het reeds beleggersvertroue geknou en verskeie aflandige verkenningsprojekte uitgestel.
# Die Madlanga-kommissie gaan strafregtelike klagte lê teen die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, nadat hy weer afwesig was. Hy is die eerste getuie wat verwys word na die Nasionale Vervolgingsgesag. Sy getuienis is sedert April reeds vyf keer uitgestel en sy regsverteenwoordigers voer sy mediese toestand as rede aan. Getuienisleiers het sy afwesigheid bevraagteken nadat hy glo in Kaapstad gesien is. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het ‘n onafhanklike mediese ondersoek gelas:
# President Cyril Ramaphosa sê Afrika moet die belofte van bevryding verwesenlik. Hy het ‘n openbare lesing in Durban gelewer oor hoe die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Visie 2050 in dade omskep kan word. Ramaphosa sê die SAOG moet ‘n dinamiese en produktiewe streek bou waar koloniale grense nie die vloei van kennis, kapitaal, goedere, dienste, vaardighede en mense belemmer nie, en moet solidariteit, gelykheid en gedeelde voorspoed bevorder:
# Die vakverbond Cosatu sê hulp is dringend nodig om skole toe te rus met hulpmiddels, insluitend onderwysers, om oorvol klaskamers en uitgeputte onderwysers te voorkom. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het onlangs bekend gemaak daar is meer as 27-duisend vakante onderwysposte. Die Oos-Kaap het die meeste, naamlik vyf-duisend-730. Cosatu se woordvoerder, Nonzuzo Dlamini, sê provinsies steier onder die afwesigheid van duisende onderwysers, maar poste bly vakant of gevries:
# Krieket: Tanzid Hasan het geskiedenis gemaak in Darwin deur die eerste kolwer van Bangladesj te word om ‘n toets-honderdtal in Australië aan te teken. Bangladesj het die begin van die eerste toets oorheers en ná die tweede dag op 351 vir ses geëindig. Die besoekers het Australië gister vir slegs 198 uitgeboul nadat Hasan Mahmud ses paaltjies geneem het, insluitend dié van Steve Smith op 71. Tanzid Hasan is uiteindelik uitgevang vir 101, terwyl kaptein Najmul Hossain Shanto 84 bygedra het. Die laaste toets begin volgende Saterdag in Mackay.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-839-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-355-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….