Nuus 15:00
BULLETIN 14 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC en die DA onderteken ‘n ooreenkoms om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm
# Oscar Mabuyane word herkies as premier van die Oos-Kaap
# En, rugby: Rassie Erasmus is tevrede met die Bok-oefenkamp
# Die ANC en die DA het die ondertekening van ‘n raamwerk-ooreenkoms aangekondig om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm wat ook die IVP sal insluit. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het die ooreenkoms onderteken. Hierdie verwikkeling was tydens ‘n onderbreking in die eerste sitting van die Nasionale Vergadering in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Kenners meen die ooreenkoms sal beteken Cyril Ramaphosa word herkies as president van die land.
Die EFF se leier, Julius Malema, adjunkpresident Floyd Shivambu en die party se parlementslede is vroeër ingehuldig al het hulle laat opgedaag vir die Parlementsitting. Die EFF se 39 LP’s het hul eed afgelê en beloof om die Grondwet te handhaaf. Hoofregter Raymond Zondo is voorsitter van die seremonie. Hy sê dis die begin van die sewende demokratiese Parlement ná die verkiesing:
In nog ‘n verwikkeling is die ANC se premierskandidaat, Oscar Mabuyane, vir nog ‘n vyf-jaar termyn herverkies as premier van die Oos-Kaap. Die waarnemende regterpresident van die provinsie, Zamani Ntlangulela, het Helen Sauls-August ingehuldig as speaker. Vuyo Jali is verkies as die wetgewer se adjunkspeaker. Die herverkiesing word bestempel as ‘n voortsetting van Mabuyane se leierskap in die provinsie, met vertroue in verdere ontwikkeling en vooruitgang.
# Die uittredende burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda, sê hy het talle suksesse tydens sy ampstermyn behaal, insluitend die delging van Eskom-skuld, die verbetering van waterverskaffing, en die daarstelling van politieke bestendigheid. Die ANC het hom teruggeroep om na die Nasionale Raad van Provinsies herontplooi te word. Kaunda sê hulle is besig met die inwerkingstelling van die 1,2-miljard-rand se Suidelike Akwaduk-projek om watervoorsiening aan die suidelike gebiede soos Umlazi, Chatsworth, Folweni, KwaMakutha en Adams te verbeter:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, is tevrede dat hulle ‘n stewige basis het om op te bou. Die groep berei voor om Wallis volgende week in die aanvangstoets van die seisoen op Twickenham te pak en het pas ‘n oefenkamp in Pretoria afgehandel. Erasmus sê hulle is tevrede met die gehalte van die oefening en die manier waarop die nuwe spelers hulle stelsels begryp en ingeskakel het. Die span vir die toets teen Wallis word Dinsdag aangekondig voor hulle Woensdagaand na Londen vertrek.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-909-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….