Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gesprekke word glo gevoer om die IVP-president as tweede adjunkpresident aan te stel
# ‘n Ontleder bepleit die koalisieproses moet uitspeel voor regterlike ingryping
# En ‘n akademikus meen Suid-Afrika het dringend kultuur van uitnemendheid in basiese en hoër onderwys nodig
# Die president van die IVP, Velenkosini Hlabisa, is genoem as ‘n moontlike tweede adjunkpresident in ‘n nuwe regering van nasionale eenheid. Volgens News24 dui bronne na aan die onderhandelings aan daar word bespiegel Hlabisa kan saam met Paul Mashatile dien. Dit sal nie die eerste keer wees nie, nadat oudpresident FW de Klerk in 1994 saam met Thabo Mbeki as wyle Nelson Mandela se adjunkpresidente gedien het.
Die onafhanklike politieke ontleder Goodenough Mashego beskryf intussen politieke partye se oproep dat hoofregter Raymond Zondo moet ingryp in die samestelling van die regering as voortydig en sonder grondwetlike grondslag. Hy bepleit dat politieke prosesse toegelaat word om uit te speel voor regterlike ingryping. Partye, insluitende die UDM en Build One SA, verlang Zondo se betrokkenheid in die samestelling van ‘n regering van nasionale eenheid. Grondwetlike norme magtig Zondo se ingryping slegs indien die samestelling van ‘n regering binne 14 dae na die verkiesing misluk.
# Suid-Afrika het dringend ‘n kultuur van uitnemendheid in basiese en hoër onderwys nodig want dit is die sleutel tot die land se oorlewing. Dit is die mening van die uittredende raadsvoorsitter van die Universiteit van Pretoria, Kuseni Dlamini. Hy het die instelling sedert 2012 gedien. Dlamini sê die uitsaksyfer by universiteite in Suid-Afrika is steeds kommerwekkend hoog en die gradueringskoers is steeds te laag. Hy voeg by ondanks die maatskaplik-ekonomiese krisis het die 26 openbare universiteite talle storms oorleef om te kom waar hulle vandag is.
# Rugby: Die Bulle is die laaste oorblywende plaaslike span in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap, en is Saterdag op Loftus gasheer vir die Ierse reus, Leinster, wat deur baie as die gunsteling beskou word. Die span is propvol internasionale sterre met meer toetservaring as die Bulle se VRK-wedstrydervaring. Hulle is ook desperaat om weer silwerware in te palm nadat hulle drie agtereenvolgende eindstryde in die Kampioenebeker verloor het. Leinster se hoofafrigter, Leo Cullen, sê hulle is opgewonde oor die uitdaging:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-51-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-306-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Die Springbok-legende Tendai “Beast” Mtawarira sal Sondag aan die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Stap vir Geregtigheid deelneem. Die geleentheid is deel van die #Action4Inclusion-veldtog van skarefinansiering vir studenteskuld. Die universiteit se woordvoerder, Martin Viljoen, sê die staptog is ‘n bewys van die mag van eenheid, empatie en aksie om verskille te oorbrug en ‘n gemeenskap te skep waarin almal tuis voel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….