Nuus 15:00
BULLETIN 6 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA onttrek aan die Veelpartyhandves weens ooreenkoms-skendings
# SAAI dagvaar die polisie vir skade gely deur ‘n boer van Limpopo weens onwettige betreders
# En ‘n ster-atleet van TUT hardloop haar plek los in die span vir die Olimpiese Spele in Parys
# ActionSA het aan die Veelpartyhandves onttrek weens skendings deur ander partye. Die voorsitter, Michael Beaumont, sê verskeie partye het die ooreenkoms verbreek deur te kies om saam met die ANC te werk. Hy het bevestig ActionSA sal nie met die ANC saamwerk nie, hoewel ander vry is om hul eie besluite te neem. Beaumont het aangekondig ActionSA fokus nou op wat hy kan bied om staatsbestuur te verbeter eerder as om ander partye te kritiseer:
Intussen sê die Verkiesingkommissie dis nie sy verantwoordelikheid om verkiesingsplakkate te verwyder nie. Die hoof van die kommissie in Noordwes, Tumelontle Thiba, sê hoe lank die plakkate hang en die verwydering daarvan berus by munisipaliteite se toepaslike verordeninge. Hy voeg by net munisipaliteite is verantwoordelik vir afdwinging en boetes. Die OVK sê hulle het geen beheer oor plakkaat-ooreenkomste met politieke partye of onafhanklike kandidate nie.
# Die Suider-Afrika Agri-inisiatief het ‘n dagvaarding teen die polisie laat uitreik om aan te dring ‘n boer, Solly Letsoala, moet vergoed word vir die skade wat onwettige betreders op sy plaas in Limpopo aangerig het. Theo de Jager van Saai sê Letsoala het die klagte in September verlede jaar het by die polisie ingedien, maar sonder enige sukses. De Jager sê die dagvaaring eis die polisie moet verantwoordelikheid aanvaar vir skade van meer as sewe-miljoen-rand:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Mexiko se eerste noodlottige menslike geval van H5N2-voëlgriep bevestig. Die 59-jarige pasiënt, met chroniese niersiekte, diabetes en hoë bloeddruk, het sover bekend geen blootstelling aan diere gehad nie. Die bron van die virus bly onduidelik, ondanks onlangse uitbrekings onder pluimvee in Michoacan en die staat Mexiko. Die land se Ministerie van Gesondheid het berig alle monsters van geïdentifiseerde kontakte het negatief getoets.
# Olimpiese Spele: ‘n Tweedejaarstudent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Zeney Geldenhuys, het vir die Spele in Parys gekwalifiseer. Haar rekordtyd van 54.72 sekondes in die 400-meter hekkies op die Suid-Afrikaanse senior baan- en veldkampioenskap het haar plek in die span verseker. Die student in Sportbestuur het onlangs silwer verower op die Diamantliga-byeenkoms in Stockholm, Swede. TUT se visekanselier, Tinyiko Maluleke, sê Geldenhuys se prestasie om vir die Spele te kwalifiseer is merkwaardig.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-51-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….