Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse daal skerp om middernag
# Rise Mzansi vra dringende regeringshulp vir KwaZulu-Natal se vloedslagoffers
# En, krieket: New York se kolfblad word gekritiseer na die laetelling-wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Motoriste gaan om middernag ‘n skerp daling in brandstofpryse sien. Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, het die aanpassings aangekondig, gegrond op huidige plaaslike en internasionale faktore. Albei grade petrol daal met een-rand-24-sent per liter, en diesel met een-rand-9 en een-rand-19-sent- per liter. Groothandel-lampolie word 80-sent per liter goedkoper met verbruikers wat een-rand-sewe-sent minder gaan betaal. Vloeibare gas se prys daal met een-rand-50 per kilogram. Die maandelikse aanpassing word toegeskryf aan internasionale oliepryse en invoerkoste van olie.
# Suid-Afrika se ekonomie het in die eerste kwartaal van 2024 marginaal ingekrimp met 0,1-persent. Dit volg op ‘n hersiene styging van 0,3-persent in die vierde kwartaal van 2023. Swakker vervaardiging, mynbou en boubedrywighede het baie van die afwaartse momentum aan die aanbodkant van die ekonomie aangevuur, terwyl ‘n afname waarneembaar is by alle onder-afdelings in die vraag-kant. Ses van die tien bedrywe aan die produksiekant van die ekonomie het swak vertoon in die eerste kwartaal, met vervaardiging die grootste negatiewe bydraer. Landbou was die grootste positiewe bydraer in die eerste kwartaal.
# Rise Mzansi sê dringende optrede is nodig na die dodelike oorstromings in KwaZulu-Natal, wat gelei het tot die dood van sewe mense terwyl een-duisend-200 ontwortel is. Die party vra ‘n omvattende hersiening van die streek se dreineringstelsels om toekomstige rampe te voorkom. Woordvoerder Mabine Seabe vra die doeltreffende gebruik van die klimaatsveranderings-reaksiefonds om volhoubare ontwikkeling en ekonomiese groei te steun:
# ‘n Man het in die Durbanse Landdroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord nadat hy na bewering Sondag ‘n pro-Palestynse gesin noodlottig aangeval het. Grayson Beare het na bewering die huis van Halima Hoosen-Preston in Glenwood binnegestorm en haar met ‘n mes doodgesteek. Die streekswoordvoerder van die NVG, Natasha Ramkisson-Kara, bevestig haar man, Shaun, en haar seun is met steekwonde in die hospitaal opgeneem:
# Krieket: New York se debuut as gasheer vir die T20 Wêreldbekertoernooi het gesorg vir ‘n wedstryd met besonder lae tellings tussen Suid-Afrika en Sri Lanka. Sri Lanka is vir slegs 77 uitgeboul en die Proteas het ‘n gemaklike oorwinning met ses paaltjies behaal. Volgens kenners is ‘n wedstryd met lae tellings nie noodwendig die beste begin vir ‘n toernooi wat veronderstel is om die Amerikaanse mark te lok nie. Anrich Nortjé, wat vier paaltjies vir Suid-Afrika laat kantel het, glo egter ‘n wedstryd met lae tellings kan ook opwindend wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-886-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….