Nuus 15:00
BULLETIN 13 Augusts 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Patrice Motsepe is die voorloper in die teoretiese ANC-wedloop om die volgende ANC-president te word
# Ramaphosa beklemtoon vervaardiging is steeds van kardinale belang vir die land se ekonomiese en nywerheidstoekoms
# En rugby: Codie Taylor voer Saterdag die All Blacks aan teen die Bulle
# Patrice Motsepe het sy voorsprong vergroot in ‘n teoretiese wedloop om die volgende ANC-president te word. Dis volgens ‘n peiling van die Social Research Foundation wat deur News24 aangehaal word. Die voorsitter van African Rainbow Minerals klop ander potensiële mededingers soos adjunkpresident Paul Mashatile en sekretaris-generaal Fikile Mbalula. Die peiling verteenwoordig nie ‘n formele leierskapsverkiesing nie, en die ANC moet nog kandidate aankondig vir volgende jaar se nasionale verkiesings-konferensie. Motsepe het voorheen ontken dat hy politieke planne het, maar sy naam word steeds genoem in opvolgings-gesprekke.
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se metaal- en ingenieursektor het besondere veerkragtigheid getoon ondanks toenemende uitdagings. Hy het na knelpunte verwys tydens ‘n presidensiële sake-ontbyt van die Staal- en Ingenieursnywerheidsfederasie van Suider-Afrika in Ekurhuleni, Gauteng. Ramaphosa beklemtoon swak binnelandse aanvraag, logistieke beperkings, hoë elektrisiteitskoste, stuikelblokke in infrastruktuur, stygende invoer-mededinging, brose wêreldwye staalaanvraag en oortollige produksie-vermoë dra by tot die druk. Hy waarsku vertraagde beleggings, nouer winsgrense en onderbenutte fabrieke bedreig werksgeleenthede:
# Die vakbond GIWUSA vra die regering om die gereedheid vir klimaats-noodgevalle drasties te verhoog, insluitend hittegolwe, erge oorstromings en storms wat in die komende maande verwag word. Die land het dié week erge kouefronte, swaar sneeuneerslae en ysige weer ervaar. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê wetenskaplikes waarsku dat daar duidelike bewyse is van groter onvoorspelbaarheid in weer- en klimaatsgebeure namate klimaatsverandering vererger:
# Die Kaapstadse hawe berei voor vir die komende besige vrugte-uitvoerseisoen na ‘n moeilike jaar wat vertragings en ontwrigtings veroorsaak het. Om bedrywighede te verbeter, sal hawewerkers gedurende die besige somermaande van Durban en Gqeberha na Kaapstad oorgeplaas word. Owerhede beplan ook om van die vrag na ander hawens te herlei om die druk te verlig. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die maatreëls is daarop gemik om ‘n herhaling van vorige probleme te voorkom toe vrugte op die dokke verrot het terwyl skepe ter see gewag het.
# Rugby: Codie Taylor sal die All Blacks die eerste keer aanvoer in Saterdag se toerwedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld in Pretoria. Die span sluit ses spelers in wat betrokke was toe die toerspan die Haaie Dinsdag 54-0 afgeransel het in Durban. Die besoekers beskryf die Bulle as ‘n trotse span wat op een van Suid-Afrika se indrukwekkendste stadions speel. Hulle sê die wedstryd is die laaste uitdaging voor die toetsreeks teen die Springbokke volgende Saterdag op Ellispark in Johannesburg afskop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-563-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….