Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Sakekamer is bekommerd oor ‘n moontlike koalisieregering
# Terwyl die stemtellery voortgaan, bly die ANC nasionaal aan die voorpunt
# En, tennis: Novak Djokovic kan vandag Roger Federer se rekord ewenaar vir Grand Slam-wedstrydoorwinnings
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid, het sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid van ‘n koalisieregering. Met die ANC se swakste vertoning in dié week se verkiesing, sal hy dalk gedwing word om samewerkingsooreenkomste met opposisiepartye te sluit om te kan regeer. Die president van die Kamer, Mtho Xulu, sê ‘n koalisie kan nadelig vir die land se ekonomie wees:
Die ANC loop steeds voor op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,25-persent, gevolg deur die DA met 21,7-persent en die MK-party met 14,66-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,32-persent, gevolg deur die IVP met 18,04-persent en die ANC met 17-persent. In Gauteng het die ANC 34,75-persent, gevolg deur die DA op 27,59-persent en die EFF met 12,90-persent. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,3-persent, gevolg deur die ANC met 19,52-persent en die Patriotic Alliance met 7,82-persent van die stemme.
# Indië het die Gupta-broers Rajesh en Atul toestemming gegee om hulle siek ma te besoek. Hulle het in ‘n hof aangevoer ‘n regime-verandering in Suid-Afrika het gelei tot ‘n heksejag teen hulle. Die broers het die Indiese hof gevra vir die versekering dat hulle nie daar aangehou sal word nie, rakende sake wat met Suid-Afrika verband hou. Rajesh en Atul Gupta word gesoek vir staatskapingsmisdade, insluitend bedrog en geldwassery. Die Nasionale Vervolgingsgesag probeer die Verenigde Arabiese Emirate oortuig om hulle uit te lewer nadat hulle in 2022 in Dubai gearresteer is.
# Tennis: Novak Djokovic kan Roger Federer se rekord vir Grand Slam-wedstrydoorwinnings ewenaar as hy Lorenzo Musetti vandag by die Franse Ope klop. Die verdedigende kampioen sal gelyk trek met die uitgetrede Federer met 369 oorwinnings by die Slams as hy met die 30ste gekeurde Italianer afreken en deurdring na die laaste 16. Djokovic het Musetti reeds vier keer in vyf kragmetings verslaan. Die Italianer het die Serwiër in 2021 groot laat skrik by die Franse Ope toe hy twee stelle gewen het, maar beseer moes uittree in die beslissende stel.
# En laastens: Vandag is Wêreldmelkdag en die Wes-Kaapse Departement van Landbou vier die melkbedryf en gee erkenning aan die noodsaaklike rol van melk as ‘n onontbeerlike voedselproduk. Wêreldmelkdag, wat deur die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies in 2001 ingestel is, beklemtoon die belangrikheid van melk as ‘n wêreldwye voedsel en vier die melksektor. Ilse Trautman van die departement sê Suid-Afrika het verlede jaar vir die eerste keer sedert 2014 ‘n netto-uitvoerder van melkprodukte geword:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….