Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Patriotic Alliance sê hy het baie beter gevaar in die verkiesing as wat hy verwag het
# Alan Winde vertrou die Wes-Kaap sal nie ‘n koalisieregering nodig hê nie
# En, rugby: Die Kaapstad-stadion is gereed om gasheer te speel vir die wedstryd tussen die Stormers en die Leeus
# Die Patriotic Alliance glo hy het baie beter gevaar in die verkiesing as wat hy verwag het. Die party is veral tevrede met die groeikoers in die Wes-Kaap. Charles Cilliers van die PA het ook die jeug geprys omdat hulle in groot getalle kom stem het. Hy is beïndruk met die algehele reaksie op hul manifes, aangesien dit beteken Suid-Afrikaners is gereed vir verandering:
Intussen sê die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, volgens die vroeë uitslae is hy vol vertroue die provinsie gaan nie ‘n koalisieregering hê nie. Die DA loop voor met sowat 54-persent. Winde sê hy was verras deur gunstige patrone vir die DA, veral in landelike gebiede soos Beaufort-Wes. Hy gee egter toe sake kan verander omdat meer as die helfte van die stemme nog getel moet word.
Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 41,84-persent nadat net meer as 66,04-persent van die stemdistrikte verwerk is. Die DA was op 22,64-persent met die MK-party op 12-persent. Die EFF en die IVP is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 9,51- en 3,02-persent. Die Verkiesingskommissie het intussen aangekondig die Noord-Kaap is die eerste provinsie om sy uitslag in al 730 stemdistrikte te verklaar. Die ANC het 49,27-persent van die stemme gekry, met die DA 21,25-persent en die EFF 12,87-persent.
# Die Slowaakse eerste minister, Robert Fico, is uit ‘n hospitaal verskuif, twee weke nadat hy ernstig gewond is tydens ‘n skietery. Fico is per lugvervoer van Bratislava verskuif, en sal sy lang pad na herstel by die huis voortsit. Die 59-jarige het om sy lewe geveg nadat hy op 15 Mei vier keer op kort afstand geskiet is toe hy ondersteuners gegroet het ná ‘n regeringsvergadering. Sy 71-jarige aanvaller ontvang tans psigiatriese behandeling. As hy skuldig bevind word, kan hy lewenslank tronk toe gaan.
# Rugby: Die Stad Kaapstad sê die Kaapstad-stadion is gereed vir môre se rugbyfees. Die SA Rugby Onder-21-Beker-kragmeting tussen Westelike Provinsie en die Cheetahs skop eerste af. Dit word gevolg deur die Stormers se laaste Verenigde Rugbykampioenskaps-groepswedstryd teen die Leeus. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê sowat 40-duisend mense sal na verwagting die plaaslike derby bywoon wat die uitspeelstryde kan beïnvloed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-347-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….