Nuus 15:00
BULLETIN 30 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum Party sê die ergste scenario’s blyk waar te word
# Die Patriotic Alliance toon groei in die Wes-Kaap en nasionaal
# En tennis: David Goffin is woedend oor die rampokkergedrag van die toeskouers op die Franse Ope
# Die leier van die Referendum Party, Phil Craig, sê die vergeldingsdag-scenario wat die party voorspel het en waarteen die DA gewaarsku het, is besig om kop uit te steek. Dit sal lei tot ‘n verswakte ANC nasionale regering, sonder ‘n volstrekte meerderheid. Craig sê die onmiddellike toekoms vir Suid-Afrika lyk skrikwekkend. Hy voeg by aanvanklike uitslae dui aan kiesers in die Wes-Kaap was nie bereid om teen die DA te stem ten einde ‘n referendum oor Kaapse Onafhanklikheid af te dwing nie:
Intussen toon die Patriotic Alliance merkwaardige groei in die Wes-Kaap en nasionaal. Die party, gelei deur Gayton McKenzie, is tans in die derde plek in die Wes-Kaap en het die EFF verbygesteek. Die DA is voor, gevolg deur die ANC. Nasionaal is die PA vyfde na die ANC, die DA, die EFF en die MK-party. Die PA, wat in 2013 gestig is, se momentum het oor die afgelope tien jaar toegeneem.
Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 43,4-persent. Die DA was op 24,82-persent met die EFF op 8,82-persent. Die MK-party en die Patriotic Alliance is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 8,05- en 4,09-persent.
In nog ‘n verwikkeling het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum kommer uitgespreek oor die veiligheid van joernaliste tydens die verkiesing. Sanef se voorsitter, Sbu Ngalwa, het by die uitslagsentrum gesê verslaggewers sal waarskynlik teikens word van misdadige bedrywighede tydens dekking. Ngalwa pleit maatreëls moet ingestel word om joernaliste se beskerming in die verskillende verslaggewings-gebiede regoor die land te verseker:
# Tennis: David Goffin was woedend oor die toeskouers hom by die Franse Ope uitgejou het na sy oorwinning in vyf stelle oor die plaaslike gunsteling Giovanni Mpetshi Perricard. Die gefrustreerde Belg het sy oor bak gemaak in ‘n gebaar na die skare en verduidelik hoe hy moes kophou om die spannende oorwinning oor die 20-jarige te kon behaal. Hy is daarna luidkeels uitgejou. Goffin vra die owerhede moet optree om dié soort toeskouer-gedrag te bekamp.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-885-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….