Nuus 15:00
BULLETIN 22 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel herroep sy ambassadeurs nadat Ierland, Noorweë en Spanje erkenning gee aan Palestina
# Binnelandse Sake dien weer die werkspermitverandering in om ‘n nomade-visum te skep
# En, rugby: Drie Suid-Afrikaners is vanaand op die kortlyste vir Premierskap-toekennings
# Israel het sy ambassadeurs in Ierland, Noorweë en Spanje herroep en sy gesante ontbied uit verset teen die drie regerings se erkenning van ‘n Palestynse staat. Die minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, beskuldig die drie lande van beloning aan die Palestynse militantegroep Hamas vir sy aanval op 7 Oktober, wat die Gaza-oorlog ontketen het. Israel se gesante is uit Dublin, Oslo en Madrid herroep vir dringende raadpleging, en die land dreig oor ernstige gevolge. Frankryk sê dit is nie nou die regte tyd vir hom om erkenning aan Palestina te gee nie.
# Binnelandse Sake het die lankverwagte veranderings aan sy werkspermit-stelsel heringedien en in die Staatskoerant gepubliseer vir die skep van nomade-visums vir afstandswerkers. Dit laat werkers wat minstens ‘n miljoen-rand per jaar verdien toe om in die land te woon, en gee korttermyn belastingkwytskelding. Die veranderings, na aanbevelings deur die Presidensie, gee aandag aan vertragings met werkspermitte. Dit steun maatskappye in buitelandse besit wat sukkel om vaardige personeel te kry weens die tekortkominge van die plaaslike onderwysstelsel. Dit wil ook die ekonomie ‘n hupstoot gee deur vaardige afstandswerkers te lok.
# Die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Mzi Khumalo, het nuutgeïnstalleerde geslotekringtelevisiekameras in Smallstraat in die Johannesburgse middestad onthul. Meer as 150 kameras is sedert April verlede jaar regoor Gauteng in brandpunte aangebring. Die regering werk saam met Vumacam vir toegang tot meer as ses-duisend kameras om openbare veiligheid te verbeter en misdaad te verminder. Khumalo sê dit vorm deel van Gauteng se strategie om misdaad deur tegnologie te bestry:
# Rugby: Drie Suid-Afrikaners is op die kortlys vir Engeland se Premierskap-toekennings wat vanaand in Londen aangekondig word. Die voormalige Leeus-agterspeler, Tyrone Green, wat vir Harlequins speel, en Bristol Bears se voormalige Haaie- en Cheetahs-speler, Benhard Janse van Rensburg, is albei benoem vir die beste drie van die seisoen. Bath se voormalige Springbok- en Bulle-hulpafrigter, Johann van Graan, is op die kortlys vir direkteur van rugby. Die spelers wat vir die speler van die seisoen benoem is, is Courtney Lawes, Finn Russel, Henry Slade en Fin Smith.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-109-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-413-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-25-sent per vat.
# En, die tussentydse uitvoerende hoof van BetterBond, Bradd Bendall, sê die maatskappy se jongste Property Brief gee rede vir versigtige optimisme, met ‘n effense verbetering in huisleningswaardes en -volumes. Dit dui op die moontlikheid dat die verstadiging van die afgelope twee jaar in die eiendomsmark, agter die rug is. Bendall sê die nasionale gemiddelde huisleningwaarde is 1,2-persent hoër as in die afgelope twaalf maande, en huisleningvolumes het ook vanjaar met 20-persent gestyg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….