Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gedenkdiens word vandag gehou vir slagoffers van die gebou-ineenstorting in George
# Eskom verleng die bedrywighede by Camden, Grootvlei en Hendrina tot 2030
# En, rugby: Jacques Nienaber sê die Kampioenebeker-eindstryd tussen Leinster en Toulouse is soos ‘n toets
# ‘n Gedenkdiens word vandag in die Lawaaikamp-gemeenskapsaal in George gehou vir die slagoffers van die gebou wat ingetuimel het. Vier-en-dertig mense is dood toe die gebou in aanbou sowat twee-weke gelede meegegee het. Nege mense is steeds in die hospitaal. Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het Vrydag die bouterrein aan die Departement van Arbeid en die polisie oorhandig vir verdere ondersoeke. Meer as ‘n duisend reddingswerkers en vrywilligers het met die reddingsoperasie gehelp.
# Eskom het die voortgesette bedrywighede by die Camden-, Grootvlei- en Hendrina-kragstasies tot 2030 goedgekeur, wat afwyk van die oorspronklike plan om eenhede teen 2027 uit diens te stel. Die hoof van kragopwekking, Bheki Nxumalo, sê die verlenging is om die netwerk bestendig te kry om nuwe vermoë by te voeg en om energiesekerheid te handhaaf te midde van ‘n voorsieningstekort. Die uitwerking op Suid-Afrika se dekarboniserings-verpligting en Billike Energie-oordrag Beleggingsplan bly onseker, met opdaterings wat in Junie verwag word oor die verminderingsteikens van uitstralings en die afsluiting van ander krageenhede.
# Die Speseryraad van Indië se regering het fabrieksinspeksies by twee voorste ondernemings van stapel gestuur in die nasleep van ‘n buitelandse verbod ná aantygings van sommige produkte wat met plaagdoders besmet is. Indië is ‘n belangrike speseryvervaardiger wat sowat 12-persent van die wêreldwye uitvoere lewer. Die raad het die inspeksies begin by verwerkingsaanlegte van die gewilde vervaardigers MDH en Everest, wat saam meer as ‘n kwart van Indië se mark beheer, om te verseker hulle voldoen aan wêreldstandaarde. Albei ondernemings ontken hulle speserye hou ‘n gesondheidsgevaar in.
# Rugby: Twee reuse van Europese rugby meet Saterdag kragte in die eindstryd van die Kampioenebeker. Die Ierse span, Leinster, speel teen die Franse klub, Toulouse, in die Tottenham Hotspur-stadion in Londen. Toulouse is die suksesvolste klub in die geskiedenis van die kompetisie met vyf oorwinnings, terwyl Leinster die beker reeds vier keer ingepalm het. Die gewese Springbok-breier Jacques Nienaber is nou die senior afrigter van Leinster en verwag die intensiteit van ‘n toets in die eindstryd teen Toulouse:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-160-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-34-sent per vat.
# Ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut daag alle Suid-Afrikaners uit om die koue te trotseer vir ‘n goeie saak deur deel te neem aan ‘n wintersonstilstand-swem om noodsaaklike fondse in te samel. Die NSRI se woordvoerder, Andrew Ingram, sê soos die wintersonstilstand nader kom, met die langste nag van die jaar op 20 Junie, moedig hulle alle burgers aan om die koue te omhels en die terugkeer van langer dae met ‘n verkwikkende swemtog te vier:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….