Nuus 15:00
BULLETIN 12 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n OPOD-amptenaar in KwaZulu-Natal beweer polisielede het bande met die insleepbedryf en dwelmhandel
# Die VF Plus sê die beweerde brandstigting op die Bloedrivier-erfenisterrein kan nie geïgnoreer word nie
# En rugby: Nonu het die All Blacks se toestemming gekry om sy eie haka uit te voer
# Die adjunkdirekteur van Ondersoeke in die KwaZulu-Natalse Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Len John, het voor die Madlanga-kommissie getuig sekere polisiebeamptes word verbind met die insleepbedryf en beskryf dit as vrye toegang tot misdaad. Hy beweer insleepdienste word gebruik om dwelms te vervoer, met polisielede wat hierby betrokke is. John beklemtoon dit blyk asof die bedryf en dwelmhandel nou verbind is:
# Die saak teen drie Kaapstadse polisiebeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle die haarkapper Juma Igiraneza gemartel het, is in die Wynbergse Streekhof tot 21 September uitgestel. Luitenant-kolonel Delmore Manuel en konstabels Jermaine Conradie en Leigh-Ann Maroon het Igiraneza na bewering op 7 November 2023 aangerand tydens ‘n klopjag op sy werkplek in Mowbray. Die saak kon nie vandag voortgaan nie omdat Conradie se prokureur nie opgedaag het nie. Landdros Karel Meyer sê die uitstel is nodig sodat alle regsverteenwoordigers die verrigtinge kan bywoon en ‘n verhoordatum vasstel.
# Die VF Plus sê beweerde brandstigting op die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal beklemtoon die belangrikheid van wedersydse erkenning tussen gemeenskappe. Die Erfenisstigting sê olie is naby die terreinbestuurder se huis aan die brand gesteek. ‘n Kampeerder wat gehelp het om die brand te bestry is beseer en elektriese infrastruktuur sowel as ‘n deel van die kampterrein is geraak. Woordvoerder Wynand Boshoff sê verskille oor identiteit en geskiedenis moet openlik bespreek word:
Nuus uit die buiteland:
# President Vladimir Putin waarsku oor vergelding as Europese lande op Rusland se handelsvaartuie beslag lê. Die staatsnuusagentskap TASS berig die Europese Unie verskerp druk op Rusland se sogenaamde skaduvloot. Die EU het sy sanksies teen honderde vaartuie uitgebrei, terwyl sekere skepe en hul bemannings aangehou word vir inspeksies. Verskeie Europese regerings het aangedui hul oorweeg strenger optrede teen vaartuie. Putin sê Rusland se vergelding sal nie beperk wees tot die gebiedswater waar Russiese vaartuie aangehou word nie, maar kan plaasvind waar Moskou dit nodig ag.
# Rugby: Die All Black-veteraan Ma’a Nonu het toestemming van sy ou span gekry voor hy gisteraand sy antwoord op die tradisionele haka op Kingspark in Durban uitgevoer het. Hy het vir die Haaie teen die toerspan gespeel nadat hy onlangs as mentor by hulle aangesluit het. Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê Nonu het die voorspeler-afrigter Tana Umaga gevra oor ‘n respekvolle antwoord. Nonu was blykbaar senuweeagtig om die tradisionele oorlogsdans op sy eie te doen, maar sy aanbieding het toe die kollig gesteel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-96-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-410-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….