Nuus 15:00
BULLETIN 20 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê Zuma se foto bly op die stembrief na die Konstitusionele Hof se beslissing
# Verbeterde energiebeskikbaarheid dra by tot 54 dae sonder beurtkrag
# En, tennis: Twee skuiwe onder die top tien mans op die jongste wêreldranglys
# Die Verkiesingskommissie sê oud-president Jacob Zuma se foto sal op stembriewe bly, al is sy naam verwyder as ‘n kandidaat van die MK-party. Dit volg op ‘n uitspraak van die Konstitusionele Hof wat die kommissie se rol uitklaar oor kandidate vir die Nasionale Vergadering. Die hof het beslis Zuma kan nie terugkeer na die Parlement nie, omdat hy tot 15-maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof. Die uitspraak maak dit vir die kommissie moontlik om vir die verkiesing voor te berei sonder kommer oor regsuitdagings.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het aangekondig Suid-Afrika is reeds 54-dae sonder beurtkrag weens ‘n verbetering in die energiebeskikbaarheidsfaktor. Dit het met nege-persentasiepunte verbeter tot 60,7-persent. Ramokgopa bevestig die onbeplande vermoëns-verliesfaktor het van 35-persent afgeneem tot 28-persent. Hy skryf die verbetering toe aan aggressiewe instandhoudingspogings, aangesien Eskom ‘n drie-jaar-hoogtepunt in beplande instandhoudingswerk bereik het terwyl eenhede in bedryf gehou is:
# Die Oos-Kaapse polisie is op soek na verdagtes nadat sewe mense, insluitend ‘n agtjarige meisie, die naweek in Nxanxashe, Willowvale, doodgeskiet is. Die polisie het gister in die vroeë oggendure inligting ontvang van ‘n skietery. Vyf mans en twee vroue is in hul Mazda 3-voertuig geskiet terwyl nog ‘n persoon sowat ‘n kilometer verder in ‘n Toyota Fortuner dood gevind is. Polisiewoordvoerder Priscilla Naidu sê ‘n verlate Volkswagen Polo is ook aangetref met bloedvlekke daarin:
# Die minister van Internasionale Verhoudinge en Samewerking, Naledi Pandor, het haar meegevoel met Iran uitgespreek na die dood van haar eweknie, die minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahian. Hy is gister naby die grens met Azerbeidjan in ‘n helikopterongeluk dood saam met die land se president, Ebrahim Raisi, en andere. Dit kom te midde van Israel se oorlog teen die Irans-gesteunde Hamas. Pandor onthou hulle samewerking en vergaderings in multilaterale forums:
# Tennis: Daar is twee veranderings onder die top tien mans op die jongste wêreldranglys. Alexander Zverev van Duitsland het die Rus Daniil Medvedev verbygesteek na die vierde plek nadat hy gister die Italiaanse Ope gewen het. Hubert Hurkacz van Pole vervang Stefanos Tsitsipas van Griekeland in die agtste plek. Novak Djokovic is steeds eerste, gevolg deur Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz. Nog ‘n Rus, Andrey Rublev, is sesde; Casper Ruud van Noorweë sewende en Grigor Dimitrov van Bulgarye tiende.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-245-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-434-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….