Nuus 15:00
BULLETIN 15 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Durbanse hof weier borgtog aan AKA se vermeende moordenaars
# ‘n Verdagte in ‘n ontvoering sterf in ‘n skietgeveg met die polisie
# En, boks: Die sport se grootste skouspel word aan jou gebied deur Saoedi-Arabië
# Die Landdroshof in Durban het die borgtogaansoeke van vyf beskuldigdes in die moord op die bekende kletsrymer, Kiernan ‘AKA’ Forbes, en sy vriend, Tebello ‘Tibz’ Motsoane, van die hand gewys. Die uitlewering van nog twee verdagtes vanaf Eswatini is steeds aan die gang. Forbes en Motsoane is op 10 Februarie verlede jaar voor die Wish-restaurant in Floridaweg in Durban doodgeskiet. Landdros Vincent Hlatshwayo sê die weiering van borgtog is in die belang van geregtigheid:
# ‘n Verdagte in die ontvoering en moord van ‘n sakeman van Benoni, Shamshudeen Faki, is op die N12 in Johannesburg doodgeskiet. Die 68-jarige Faki is Saterdag by sy sakeperseel ontvoer. ‘n Losprys van miljoene rand is van sy familie geëis. Faki se liggaam is Maandag in Dalpark aangetref. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê beamptes het gisteraand die verdagte opgespoor:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is teleurgesteld oor president Cyril Ramaphosa se plan om die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering te onderteken sonder dat kritieke bekommernisse aandag gekry het. Die vakbond steun pogings om gesondheidsorg-ongelykhede reg te stel, maar glo die huidige raamwerk van die wetsontwerp bied meer uitdagings as oplossings. Die VSA vra duidelikheid oor die befondsingsmodel en steun ‘n openbare-privaat gesondheidsorgmodel. Hy beklemtoon die dringende behoefte aan die opknapping van staatsgesondheidsorg-geriewe en aan meriete-aanstellings om betekenisvolle toegang tot gesondheidsorg te verseker.
Intussen sê die Medihelp-mediese skema hy steun die Wetsontwerp op Nasionale Gesondsheidsversekering en bly toegewy aan die gesondheid van sy lede en burgers. Die hoof-beampte, Varsha Vala, onderskryf universele gesondheidsdekking as ‘n edel doelwit, en noem voorbeelde uit lande soos Suid-Korea, Brasilië en Indië. Volgens Vala sal die NGV geleidelik ingestel word, en begin met die skepping van voordelekomitees. Sy verduidelik mediese skemas sal steeds bestaan, maar kan nie dienste dek wat deur die NGV verskaf word wanneer dit volledig in werking is nie. Die skema onderneem om verwikkelings rondom die NGV fyn dop te hou.
# Boks: Aanhangers sal uiteindelik Saterdag die kroning van ‘n onbestrede swaargewigkampioen sien. Promotors, uitsaaiers en ego’s het jare lank verhoed dat dit gebeur, maar nou het geld uit Saoedi-Arabië hierdie struikelblokke uit die weg geruim. Tyson Fury van Brittanje en Oleksandr Usyk van Oekraïne ding mee in die titelgeveg in Riaad. Fury wissel tussen verkleinering en prys van sy teenstander, maar Usyk sê dis alles deel van die vertoning:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-532-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-366-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….