Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die NGV is ‘n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se brose belasting-grondslag
# Suid-Afrika se werkloosheidskoers styg tot 32,9-persent in die eerste kwartaal
# En, atletiek: ‘n Europese hof gaan die finale uitspraak lewer in Caster Semenya se testosteroon-saak
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge waarsku om Suid-Afrika se algehele gesondheidsorgstelsel onder regeringsbeheer te plaas, sal waarskynlik middelklas-emigrasie versnel, wat ‘n rampspoedige afname in belasting-inkomste sal veroorsaak. Die instituut sê dit sal gebeur wanneer president Cyril Ramaphosa môre die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering onderteken. Michael Morris van die instituut sê privaat gesondheidsorg sal ook mettertyd deur die regering beheer word:
# Werkende persone het in die eerste kwartaal van 2024 met 22-duisend tot 16,7-miljoen toegeneem vergeleke met die vierde kwartaal van 2023. Volgens Statistieke SA se Kwartaallikse Arbeidsmagopname het die aantal werklose persone in die dieselfde kwartaal met 330-duisend tot 8,2-miljoen toegeneem. Hierdie veranderings het die amptelike werkloosheidskoers laat toeneem met 0,8 van ‘n persentasiepunt, vanaf 32,1-persent in die vierde kwartaal van 2023 tot 32,9-persent in die eerste kwartaal vanjaar. Die bedrywe wat tot die netto indiensnemingstoename bygedra het, sluit in handel, vervaardiging, privaat huishoudings, vervoer, landbou en mynbou.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die toerisme-bedryf is lonend maar misdadige bedrywighede bedreig sy groei. Sy het tydens die Afrika-reisindaba in die Durbanse Internasionale Konvensiesentrum in KwaZulu-Natal gesê die Toerismebeleggingseminaar fokus op die stryd teen misdaad in die sektor terwyl dit die soeklig laat val op beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika. De Lille benadruk die uitwissing van misdaad sal lei tot ‘n toename in toerisme op die vasteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, sal China Donderdag besoek en die leier, Xi Jinping, ontmoet. Dit is die Russiese leier se eerste reis na die buiteland sedert sy herverkiesing in Maart, en sy tweede na China in net meer as ses maande. Die Kremlin sê die twee leiers sal hul omvattende vennootskap en strategiese samewerking bespreek, asook sleutelgebiede vir ontwikkeling van Russies-Chinese samewerking en menings uitruil oor internasionale en streekkwessies. Hulle sal ook ‘n geleentheid bywoon om 75 jaar van diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande te vier.
# Atletiek: Die Europese Hof vir Menseregte sal môre sy finale besluit bekend maak oor Caster Semenya se regstryd oor testosteroon-regulasies. Die dubbele Olimpiese 800 meter-kampioen betwis die vereiste om haar testosteroonvlak te verlaag om te kan deelneem. Die hof het in ‘n vorige uitspraak in haar guns beslis toe dit bevind het die vroeëre uitspraak van die Arbitrasiehof in Sport was diskriminerend. Volgens Semenya skend die regulasies haar waardigheid en menseregte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-789-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….