Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die ramp in George styg tot 12
# Die DA beskuldig Eskom dat hy diesel verbrand om beurtkrag te voorkom voor die verkiesing
# En, Israelse betogers steek ‘n gedeelte van die Verenigde Nasies se kompleks in Oos-Jerusalem aan die brand
# Die dodetal na die ineenstorting van ‘n gebou in George het tot 12 gestyg toe nog drie liggame uit die puin gehaal is. Altesaam 41 mense word nog vermis.
# Die DA beweer Eskom verbrand doelbewus diesel om beurtkrag te voorkom in die aanloop tot die verkiesing op 29 Mei en sê dit versterk vermoedens dat dit manipulering vir politieke gewin is. Volgens die party het hy bewyse wat neerkom op druk van die ANC-regering op die bedryf van die nutsmaatskappy. DA-woordvoerder, Mimmy Gondwe, sê die jongste data van die Energiereguleerder van Suid-Afrika toon ‘n kommerwekkende uitputting van die dieselbegroting en meer as die helfte van die begroting vir die eerste kwartaal is in ‘n enkele maand bestee:
Suid-Afrika gaan intussen ‘n nuwe tydlyn indien vir die sluiting van sy steenkool-kragaanlegte in ʼn poging om klimaat-finansiering van 48-miljard-rand te bekom. Die tydlyn wat in Junie aan die Klimaat-beleggingsfonds voorgelê word, wil aantoon dat die land steeds op koers is om befondsing van die Billike Energieoordrag-vennootskap te ontvang. Die projekbestuurseenheid wat toesig hou oor die vennootskap, sê hulle gaan ʼn wysiging voorlê oor die uitdiensstellingsplan wat aan ʼn vrystellingsteiken gekoppel is.
# Cosatu steun die Wysigingswetsontwerp oor Ouer Persone en vra die Parlement om die aanvaarding te bespoedig van, wat hy noem, die lank agterweë progressiewe wetgewing. Die wetsontwerp stel verskeie maatreëls voor om die beskerming en versorging van ouer mense te verbeter. Matthews Parks van Cosatu sê ‘n belangrike deel van pogings om ‘n meer sorgsame samelewing te bou, is om te verseker dat die kwesbaarstes beskerm word:
# Die Verenigde Nasies se belangrikste hulpagentskap vir Palestyne het sy hoofkwartier in Oos-Jerusalem gesluit nadat plaaslike Israeli’s dele van die buitekant aan die brand gesteek het. Die hoof van die agentskap, Phillippe Lazzarini, sê die lewens van VN-personeel is ernstig bedreig. Hy sê Israel as ‘n besettingsmag het die verantwoordelikheid om te verseker VN-personeel en -geriewe word te alle tye beskerm. Lazzarini sê groepe Israeli’s hou die afgelope twee maande gereeld versetoptredes buite die kompleks.
# Boks: Die minister van Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en adjunkminister Nocawe Mafu, sal belanghebbendes van Boks Suid-Afrika raadpleeg om voornemende raadskandidate te kies. Raadpleging word vandag gehou om belanghebbendes in staat te stel om terugvoer te gee oor die potensiële aanstellings. Die woordvoerder, Litha Mpondwana, sê hulle het tot Maandag tyd om kommentaar te lewer, en die aanstellings sal kort daarna bekend gemaak word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-944-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….