Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Umkhonto we Sizwe se Jeugliga verwerp die partystigter se besluit teen Zuma
# Die ondersoek na die intuimeling van ‘n gebou in George het begin
# En, rugby: Die Stormers vertrek uit Kaapstad vir belangrike VRK-wedstryde
# Die Jeugliga van die MK-party staan uitsprake toegeskryf aan die stigter van die party, Jabulani Khumalo, sterk teen en distansieer hulle van enige verbintenis met hom. Die nasionale woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê hulle bevestig hulle steun vir oud-president Jacob Zuma, en gee sy leierskap krediet vir aansienlike vordering. Mkhabela sê Khumalo se kritiek sal nie hulle steun vir Zuma of hulle toewyding aan die party se doelwitte ondermyn nie. Sy vra Khumalo om nie hulle strewe na ekonomiese vryheid te skaad nie:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het bevestig daar is begin met die ondersoek na die intuimeling van ‘n gebou in George. Onafhanklike ingenieurs is daarvoor aangestel. Reddingspanne hanteer vir drie dae die perseel as ‘n reddings-operasie, volgens internasionale standaarde. Die aantal sterfgevalle het intussen tot ses gestyg, met 47 mense wat nog vermis word. Winde het aan die media gesê die identiteit van die maatskappy wat besig was om die struktuur te bou, word weens voortgesette polisie-ondersoeke nie bekendgemaak nie:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, word vandag te midde van omstredenheid by die Kremlin ingehuldig vir sy vyfde termyn. Kritici bevraagteken die wettigheid van sy oorwinning in die verkiesing in Maart. Die 71-jarige Putin is Rusland se langs-dienende leier sedert Joseph Stalin. Sy herverkiesing het gevolg op die dood van sy uitgesproke kritikus, Alexey Navalny. Amerika, Brittanje en talle Europese Unie-lande boikot volgens berigte die plegtigheid. Die Oekraïnse ministerie van Buitelandse Sake weier om die president erkenning te gee weens ‘n gebrek aan demokratiese regmatigheid.
# Rugby: ‘n Stormers-groep van 27 spelers vertrek vandag uit Kaapstad vir twee belangrike Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryde. Die Stormers is tans in die vyfde posisie op die algehele punteleer en pak die Dragons Vrydag in Newport, voordat hulle volgende Saterdag in Galway teen Connacht te staan kom. Die agterspelers Angelo Davids en Sacha Feinberg-Mngomezulu keer terug ná beserings. Die vleuels Leolin Zas, Ben Loader en Courtnall Skosan, die senter Ruhan Nel, die skrumskakel Paul de Wet en die voorspelers Deon Fourie, Lizo Gqoboka en Ali Vermaak is weens beserings nie oorweeg nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-104-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Skool vir Regering van Suid-Afrika het ‘n vennootskap gesluit met die Duitse Instituut vir Ontwikkeling en Volhoubaarheid. Dit moet pogings van openbare instellings as unieke ondernemings versterk om hervorming en volhoubare ontwikkeling in ‘n toenemend ingewikkelde wêreld te stuur. Dit word bereik met ‘n aantal veldtogte, insluitend die jaarlikse deelname aan die Managing Global Governance Academy en konferensies van die Duitse instituut. Altesaam 52 Suid-Afrikaanse jong beroepspersone van regeringsinstellings, dinkskrums en navorsingsorganisasies, die burgerlike samelewing en die private sektor het aan die bestuursakademie deelgeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……