Nuus 15:00
BULLETIN 25 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verslag toon die Buffalo City-munisipaliteit se regulatoriese nalatigheid in Enyobeni-tragedie
# Rugby: Die Bulle se losskakel is vir drie weke geskors vir ‘n rooikaart teen Munster
# En, Suid-Afrikaners gaan skuld aan vir kruidenierware met die lewenskoste wat styg
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se verslag oor die Enyobeni-taverne-tragedie wys daar was regulatoriese nalatigheid deur die Buffalo City-munisipaliteit. Die voorval het tot die dood van 21 tieners gelei. Kommissaris Nomahlubi Khwinana sê die Oos-Kaapse metro het sy pligte versuim, veral met sonerings-regulasies, die monitering van dranklisensie-aansoeke, en die totstandkoming van plaaslike dwelm-aksiekomitees. Sy wys ook op ‘n gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid, wat gemeenskapsveiligheid en -welstand verder in gevaar stel:
# Die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, verwelkom vandag meer as ‘n duisend mediese interns en gemeenskapsdienswerkers as deel van vanjaar se inname. Motalatale Modiba van die departement sê hierdie uiteenlopende groep sluit mediese dokters, fisioterapeute, oudioloë, spraakterapeute, verpleegkundiges, tandartse en aptekers in:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het die VSA en China gevra om hulle verskille verantwoordelik te bestuur nadat hy in Beijing aangekom het vir taai samesprekings met Chinese leiers. Hy sal na verwagting ‘n reeks uitdagende kwessies pak, insluitend Chinese steun vir Rusland en sy hantering van Taiwan. China sal waarskynlik kwessies ophaal soos handelskommer, met die nuwe Amerikaanse optrede teen die gewilde Chinese sosiale media-toepassing, TikTok. ‘n Vol dag se samesprekings lê môre voor, insluitend ‘n moontlike ontmoeting met president Xi Jinping.
# Rugby: Die Bulle se losskakel, Johan Goosen, is vir drie weke geskors na verlede naweek se rooikaart teen Munster in hulle Verenigde Rugbykampioenskapstryd op Loftus. Hy is halfpad deur die tweede helfte vir ‘n kopstamp afgestuur. Die Bulle was in daardie stadium 22-17 voor, maar het uiteindelik 27-22 verloor. Die VRK se dissiplinêre komitee sê Goosen het skuld aanvaar vir vuilspel wat ‘n rooikaart regverdig. Hy sal die wedstryde teen Ospreys, Glasgow Warriors en Benetton misloop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-710-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n nuwe verslag van FinMark Trust onthul 40-persent van Suid-Afrikaanse volwassenes moet geld leen om kos te koop, met lewenskoste wat die hoogte inskiet. Die studie dui ook aan 68-persent van Suid-Afrikaners kry maatskaplike toelaes, wat nie basiese behoeftes dek nie, met die kindersteuntoelae wat aansienlik onder die voedsel-armoedelyn is. Daarby word net 24-persent van Suid-Afrikaners geklassifiseer as finansieel gesond, wat dui op ‘n verswakkende finansiële landskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….