Nuus 15:00
BULLETIN 7 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Moordondersoek is geopen ná die dood van twee Johannesburgse tieners in Mpumalanga
# Minister Gwarube publiseer die konsep-BELA-regulasies vir openbare kommentaar
# En rugby: Mallett glo die Stormers kan die All Blacks vanaand ontsenu
# Die polisie in Mpumalanga het ‘n moordondersoek geopen nadat lykskouings uitgevoer is op die liggame van twee jongmense van Johannesburg wat Maandag in ‘n gastehuis in Sabie gevind is. Die 17-jarige graad 11-leerder van St Stithians, Cameron Waldeck-Cook, is verwurg, en die 19-jarige Ethan Coetzee, wat verlede jaar aan dieselfde skool matrikuleer het, het waarskynlik selfdood gepleeg. Die owerhede sê ondersoeke duur voort om die omstandighede rondom die voorval te bepaal. Die skool het berading verskaf aan leerders en personeel.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het bykomende konsepregulasies en ‘n konsepkennisgewing vir openbare kommentar gepubliseer om die implementering van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette te ondersteun. Die voorstelle dek die verkiesing van skoolbeheerliggame, bykomende vergoeding vir onderwysers, onderwysontwikkelingsinstitute en die Nasionale Onderwysinligtingstelsel. Die minister sê die regulasies het ten doel om duidelikheid, eenvormigheid en verantwoordbaarheid te bied terwyl die bestuur versterk word:
# ‘n Johannesburgse prokureur wat na bewering ontvoer is voor haar woonstel in Northcliff is veilig opgespoor. Sy was glo geskok maar ongedeerd. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê Alex van Heerden is gister in Vosloorus gered nadat sy die vorige aand ontvoer is toe sy uit ‘n e-taxi geklim het. Nevhuhulwi sê een verdagte is intussen in Sebokeng in hegtenis geneem en sal na verwagting in die Randburgse Landdroshof op ‘n aanklag van ontvoering verskyn:
# Turkye, Saoedi-Arabië en Pakistan onderteken vandag ‘n gesamentlike verdedigingsverdrag te midde van toenemende onbestendigheid in die streek terwyl Golflande onder Iranse aanvalle deurloop ná Amerika en Israel se aanvalle op Iran. Reuters berig die verdrag versterk samewerking tussen ‘n groeiende groep invloedryke Soennitiese Moslemlande, maar besonderhede oor elke land se verpligtinge is nog nie bekend nie. Die Turkse minister van Buitelandse Sake, Hakan Fidan, het in Januarie gesê Ankara verkies ‘n breër streeksveiligheids-platform om samewerking en bestendigheid te bevorder.
# Rugby: Die voormalige Springbok-speler en -afrigter, Nick Mallett, glo die Stormers kan die All Blacks ontsenu in vanaand se eerste toer-wedstryd in Kaapstad. Hy sê die gasheer se voorspelers kan dit moeilik maak vir die besoekers en die opwindende skakelpaar, Yaqeen Ahmed en Imad Khan, sal die geleentheid aangryp om te wys wat hulle kan doen. Mallett glo nie die Stormers se beperkte voorbereidingstyd sal ‘n nadeel wees nie, mits hulle die regte houding en geesdrif het en besef dis ‘n eenmalige geleentheid vir baie van die spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-66-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-324-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….