Nuus 15:00
BULLETIN 19 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof stel die Thuja Capital kontrak van vyf-miljard-rand met die Werkloosheids-versekeringsfonds ter syde
# Die polisie kondig die werwing van tien-duisend beamptes aan
# En, rugby: Frans Malherbe voer die Stormers aan teen Ospreys
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die kontrak van vyf-miljard-rand wat die Departement van Arbeid se Werkloosheidsversekeringsfonds aan Mthunzi Mdwaba van Thuja Capital toegeken het, tersyde gestel. Waarnemende regter Japie Maritz het Mdwaba ook beveel om op te hou om korrupsiebewerings te versprei teen die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi. Mdwaba het Nxesi, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, daarvan beskuldig dat hulle omkoopgeld van 500-miljoen-rand gevra het.
# Die Parlement probeer om die aanvaarding van wetgewing te versnel, insluitend die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse, wat vroeë toegang tot pensioenfondse sal toelaat. Die Nasionale Raad van Provinsies beplan om die wetsontwerp voor volgende maand te finaliseer, met wysigings wat verskeie pensioenfondse sal insluit. Dit volg nadat die minister van Finansies, Enoch Gondongwana, in sy begrotingstoespraak van 2022 die tweepot-stelsel bekendgestel het. Ten spyte van sommige maatskappye se vrae oor die gereedheid daarvan teen 1 September, word vordering gemaak, met die raad wat volgende week verdere oorwegings geskeduleer het.
# Cosatu sê Volkswagen se belegging van vier-miljard-rand in sy Kariega-monteeraanleg in die Oos-Kaap is ’n teken dat regeringspogings deur middel van die Motorbedryf-meesterplan vrugte afwerp. Cosatu sê hoewel hy die positiewe verwikkelings verwelkom, het die land baie meer optrede nodig. Matthew Parks van Cosatu sê die regering mag nie op sy louere rus terwyl Suid-Afrika ‘n werkloosheidsyfer van 41-persent het nie. Hy sê die ekonomie het ook baie aktiewe ondersteuning nodig in die aangesig van talle groot uitdagings:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die werwing vir die eerste groep van tien-duisend beamptes vir die 2024/25-boekjaar afgehandel. Die nasionale woordvoerder, Athlenda Mathe, sê die eerste groep van vier-duisend-500 studente sal Maandag met hul opleiding begin. Die tweede groep van vyf-duisend-500 sal in Januarie volgende jaar begin. Mathe sê meer as ‘n miljoen aansoeke is vir hierdie werwingsiklus ontvang:
# Rugby: Die ervare Springbokstut Frans Malherbe sal die Stormers môreaand in Kaapstad aanvoer in hul Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys. Gary Porter en Adré Smith vorm ‘n splinternuwe slotpaar, terwyl Evan Roos saam met die flanke Nama Xaba en Hacjivah Dayimani in die lostrio opgeneem is. Dan du Plessis en Wandisile Simelane, wat vroeër die seisoen teen Edinburgh beïndruk het, sal weer die senterpaar wees. Paul de Wet en Damian Willemse begin op die bank. Die wedstryd begin môreaand kwart-oor-sewe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-776-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….