Nuus 15:00
BULLETIN 3 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier van die vyf beskuldigdes in ‘n plaasaanval in Noordwes bly agter tralies
# Brandstof is goedkoper vanaf middernag ná ‘n verligtingspakket van tien-miljard-rand
# En rugby: Erasmus verwag Saterdag ‘n begeesterde vertoning van Italië
# Die saak teen vier van die vyf verdagtes in die wrede aanval op ‘n boer van Noordwes, Donovan Marx, is tot 13 November uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Hulle het in die Ventersdorpse Landdroshof verskyn op aanklag van onder meer poging tot moord, roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Die staat voer aan die aanval is vooraf beplan en met voorbedagte rade uitgevoer nadat Marx geskiet en gesteek en albei sy ore afgesny is. Die saak teen die vyfde verdagte is nog nie op die hofrol geplaas nie.
# Die Departement van Minerale- en Petroleumhulpbronne het brandstofprysaanpassings aangekondig wat middernag in werking tree. Petrolpryse vir grade 93 en 95 sal met een-sent per liter daal, terwyl dieselpryse met tussen een-rand-tien- en een-rand-twintig-sent daal. Die aanpassings volg op die Nasionale Tesourie se verligtingspakket van tien-miljard-rand wat die brandstofheffing sny met een-rand-50-sent vir petrol en drie-rand vir diesel. Die prys van lampolie styg egter met twee-rand-75-sent per liter.
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid gaan môre kommissarisse en personeel ontplooi om die munisipale verkiesing dop te hou. Waarnemers sal stemdistrikte besoek in stedelike, buitestedelike en landelike gemeenskappe, insluitend informele nedersettings, om deelname te monitor. Die kommissie wil seker maak niks keer landsburgers om hul stemreg uit te oefen nie, veral nie deur geslagsdiskriminasie nie. Woordvoerder Javu Baloyi sê die bevindings sal bydra tot ondersteuning en versterking van die land se demokrasie uit ‘n geslagsgelykheids-perspektief:
# Die ANC verwerp wat hy die misbruik van AGOA noem nadat Amerika aangekondig het Suid-Afrika sal vanaf Januarie uitgesluit word van die handels-voorkeurprogram. Die party se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê AGOA moenie gebruik word om ontwikkelende lande vir onafhanklike buitelandse beleidsposisies te straf nie. Sy sê Suid-Afrika sal voortgaan om ‘n onafhanklike diplomatieke koers te volg en sy handelsbande met verskeie lande verbreed, insluitend BRICS-vennote:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus verwag Saterdag ‘n begeesterde vertoning van Italië in hulle Nasiekampioenskapstoets in Turyn, al is die gashere slegs elfde op die wêreldranglys en Suid-Afrika eerste. Hy sê die Azzurri is ‘n gehaltespan wat die wedstryd met groot motivering sal aanpak ten einde hul tuisreeks op ‘n positiewe noot te begin. Dit sal die 18de wedstryd tussen die twee lande wees. Italië kon die Bokke tot dusver slegs een keer klop, naamlik in 2016 in Florence. Erasmus sê hulle het Suid-Afrika egter voorheen behoorlik onder druk geplaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-17-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-904-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….