Nuus 15:00
BULLETIN 17 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Administrateurs jaag teen tyd vir veranderings voor die tweepot-aftree-stelsel intree
# Die Nasionale Tesourie verleng die spertyd vir infrastruktuur-befondsingsvoorstelle
# En, tennis: Nadal besef dit sal moeilik wees om De Minaur vandag in Barcelona te klop
# Die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika waarsku oor tydbeperkings vir pensioenfonds-administrateurs om veranderings aan te bring voor die instelling van die tweepot-aftree-stelsel. Die senior beleids-raadgewer, Adri Messerschmidt, glo daar is min tyd oor vir stelselveranderings en sakeprosesse. Die Wysigingswetsontwerpe op Pensioenfondse en op Inkomstewette, waarvolgens die tweepotstelsel ingestel word, moet gepromulgeer word voor dit kan wet word. Administratiewe struikelblokke sluit in goedkeuring deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor en die afhandeling van belastingreëls.
# Die Nasionale Tesourie het die spertyd vir die indien van voorstelle aan die Begrotingsgerief vir Infrastruktuur uitgestel tot 17 Mei. Dit gee projekborge meer tyd om hulle voorstelle voor te berei. Dit is ingestel om die inwerkingtreding van voorkeur-infrastruktuurprojekte ‘n hupstoot te gee met ‘n deeglike beplannings- en keuringsproses. Die Tesourie gaan die verlenging gebruik om ‘n pyplyn projekte en programme daar te stel, om alternatiewe befondsingsmodelle te ontgin, en om befondsingsgapings te vul.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ‘n rekordgetal van 102-duisend-680 Graad 1- en Graad 8-toelatingsaansoeke vir die 2025 skooljaar ontvang. Dit dui op ‘n toename van vyf-duisend-936 vanaf die vorige jaar. Die LUR, David Maynier, sê laat aansoeke sal nou oorweeg word, met skole wat langer as ‘n maand het om alle voorleggings te hersien. Hy sê ouers sal vanaf 30 Mei aanlyn oor aansoekuitkomste in kennis gestel word:
# Tennis: Die twaalfmalige kampioen, Rafael Nadal, besef dit sal nie maklik wees om die vierde gekeurde Australiër Alex de Minaur vandag te klop in die ronde van 32 van die Barcelona Ope in sy geboorteland, Spanje, nie. Die 37-jarige het gister in die eerste ronde die Italianer Flavio Cobolli 6-2, 6-3 verslaan in sy tweede toernooi van die jaar en eerste sedert Januarie. Die 22-malige Grand Slam-kampioen gebruik die toernooi as voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy reeds ‘n rekordgetal 14 keer gewen het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-en-86-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte, die Persraad het die kritieke rol van die media tydens ‘n verkiesing beklemtoon, terwyl Suid-Afrika voorberei vir die verkiesing op 29 Mei. Ingevolge die Perskode word van joernaliste verwag om eties en verantwoordelik verslag te doen en betroubare inligting vir kiesers te verseker. Die uitvoerende direkteur, Latiefa Mobara, het die belangrikheid van waaksaamheid teen verkeerde inligting beklemtoon. Die kode beklemtoon media-onafhanklikheid en deursigtigheid, wat noodsaaklik is vir die bevordering van ingeligte besluitneming. Dit het ten doel om joernalistieke integriteit te handhaaf, en is in ses tale beskikbaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….